Min reën; moeilike winter lê voor

Posted in Latest News

Reën die afgelope Desember 2018, was effens later as verwag, maar die patroon daarvan was soos voorspel. Dit het nie oor ‘n wye front gereën nie, maar eerder geïsoleerd (in kolle) oor ‘n groot gebied.

Dus sou die meeste plase in die tydperk reên ontvang het. Die reënval was verder wes egter meer geisoleerd en beperk en droogtetoestande is nie in die gebiede werklik verlig nie.
Die oorsaak van die reën was weens ‘n sterk hoogdruksel aan die ooskus wat die vogtige lug oor die land gevoer het. Dit het veral Limpopo, Gauteng en die oostelike dele van Noordwes bereik. Na die weste het die vogtigheid weens hitte vinnig opgeklaar en het geïsoleerde konveksiedonderstorms voorgekom. Dit is opmerklik dat ‘n sterk hoogdruksel oor die weskus steeds afwesig is. Dit verhoed die ontwikkeling van ‘n laagdruktrog oor die sentrale dele van die land en dra grootliks by tot die voortgesette en verdere intensifisering van die droogte in die sentrale dele en die westelike dele van Noordwes, asook die Noordkaap.
Daar is tans geen teken van die langtermyn gemiddelde weerstelsels oor SA nie en slegs buitengewone weerstelsels, soos byvoorbeeld Tropiese siklone wat verder suid en nader aan die SA ooskus beweeg as normaalweg, tesame met ‘n sterk hoogdrukstelsel wat suid om die land beweeg, en ‘n laagdruk in die binneland, kan vogtige lug en reën oor die binneland meebring. Sulke stelsels kom egter baie min voor, omdat die seewater aan die KZN kus meestal steeds te koud is vir ‘n tropiese sikloon. Met die verskynsel van seeverwarming, mag dit tog wel moontlik wees. Dit sal egter net in uitsonderlike gevalle voorkom.
Opsommend, waarskynlikheid van reën in die binneland raak toenemend skaarser. Ondergemiddelde reënval in die publikasiegebied van die koerant sal steeds heers en ‘n moeilike winter lê voor indien nie daarvoor voorsiening gemaak is nie.