Konynboer word nou ‘pee’onier

Posted in Latest News

AGRI-PULSE – NOORDWES – ‘n Afgetrede onderwyser en nou konynboer van Noordwes staan op die punt om met “P” nuwe betekenis aan die woord “pionier” te gee nadat hy en ‘n veearts van Pretoria met pionierswerk in die ware sin van die woord ‘n totaal-nuwe dimensie rondom konynboerdery ontwikkel het.

Al gehoor van Rabbit “P”? Wel, tot verlede week toe ons ook nie. Wat is Rabbit “P”? Presies wat dit sê: Konyn-urine. Sedert onlangs word dit as ‘n sekondêre produk van konynboerdery geproduseer. Dit volg nadat ‘n interessante, eintlik ‘n visioenêre, waarneming deur ons pionier, mnr Dirk le Roux tot navorsing gelei het. Le Roux boer op die plaas Groenfontein,  feitlik presies tussen Derby en Koster geleë.
Dirk en sy eggenote, Sandra, was hul lewens lank aan die onderwys verbonde - trouens, Sandra is steeds in die onderwys by Koster Gekombineerde Skool. 14 jaar gelede, naby die einde van sy onderwysloopbaan van 25 jaar, het Dirk besluit hy is lus vir ‘n lewe op die plaas. Die gesin het hul toe op Groenfontein gevestig. Die Le Roux’s is die derde generasie Le Roux’s wat hulle op die familieplaas gevestig het.  
Dirk het aanvanklik met talle boerderypraktyke geëksperimenteer – onder meer groente – maar drie jaar gelede het die “vleiskonyngogga” gebyt en die konynboerdery het op Groenfontein werklikheid geword. Dirk het ‘n beskeie klompie konyne aangeskaf waarmee hy ‘n boerdery op die been kon kry. Hokke is gekoop en alles wat nog benodig word. Dit was nie baie lank voordat Dirk opgemerk het dat die groenigheid onder die konynhokke soos gras, blare en selfs onkruid skielik begin floreer het nie.  Hy het ‘n beperkte hoeveelheid van die konyn-“P” geoes en ‘n veearts van Pretoria gevra om daaroor navorsing te doen.  Groot was sy verbasing toe die veearts nie te lank daarna nie van hom laat hoor met die nuus dat die konynurine klaarblyklik uitstekende organiese kunsmis, blaarvoeding en ‘n baie effektiewe insekafweermiddel is (let wel – nie insekdoder nie!)  Die res is die spreekwoordelike geskiedenis. Dirk het dadelik ingespring om die nodige stelselaanpassings in sy konynbedryf te implimenteer wat die “oes” van sy neweproduk aansienlik vergemaklik het. Vandag word die stelsel op ‘n wetenskaplike metode bedryf en kan jy glo dat Dirk vandag sowat 75 liter se urine per dag “bottel” en feitlik onmiddellik vir die mark gereed het. Maar onthou darem, Dirk het vandag sowat 700 konyne in die tonnel wat met al die jongste tegnologie toegerus is – onder meer die sogenaamde “wet wall” verkoelingstegnologie wat verseker dat die spierwit konyne nie te warm kry nie anders maak hulle soos die skaapboer eendag vir my verduidelik het – naamlik vrek op streke.
 (Ek het ‘n ervare boer op ‘n dag oor die wispelturigheid en broosheid van skaapboerdery uitgevra toe ek die volgende stukkie wysheid moes hoor: “Jong”, het die boer gesê, “skape is snaakse goed. Hulle staan een oggend op en sê vir mekaar: “Haai, kom ons vrek en dan vrek hulle sommer almal…)  Maar daar is nog ‘n syvertakking. Onder elke enkele hok of ry konynhokke is ‘n sogenaamde grasbedding wat die konynurine maklik eenvoudig dreineer en boonop die diertjies se vaste uitskeidingstowwe opvang. Dit gebruik Dirk weer as ‘n deklaag in sy knoffelland,  Op sy eie staan die konyn-bedryf in Suid-Afrika tans sterk hoewel die volle potensiaal nog nie naastenby bereik is nie. Terwyl die binnelandse aanvraag deurlopend toeneem, is die meeste konynkarkasse natuurlik vir die buiteland bestem waar die bedryf al goed gevestig is. Wat die Rabbit-“P” bedryf betref, is Dirk tans waarskynlik een van die eerste telers in die land wat die nut daarvan ondersoek het en hoop om vorentoe groot kommersiële sukses daarmee te behaal. Dirk se Rabitt-“P” word teen R20/liter van die hand gesit en jy verdun dit in ‘n verhouding van 1.20 met water voor jy dit op jou gewasse toedien. Miskien het dit tyd geword dat jy begin vra watter voordele hierdie nuwe “tegnologie” vir jou boerdery of kwekery kan beteken?  
Skakel Dirk by 082 788 9885 om te hoor wat die eenvoudige “Paashaas” vir jou kan doen.