Burre se Droogtehulp verander lewens

Posted in Latest News

Christelle Wessels
Agri-Pulse - Rustenburg - As ‘n mens wat in die Karoo grootgeword het, is ek gewoond aan hoe ongenaakbaar daardie wêreld kan lyk.
Of só het ek gedink.

Ons ry net na Nuwejaarsdag terug van die Strand af Rustenburg toe. Die Kaap lyk beter as wat dit ‘n jaar gelede gelyk het, maar dit is steeds droog. As jy verby De Doorns is, is dit egter asof daar byna onmiddellik ‘n verslegting is.  Hier lyk die wêreld nie droog nie; hier is dit dór. Windpompe draai in die warm wind, maar die tuite wat koel water in damme moet stort, het nie werk om te doen nie, nie ‘n enkele druppel om te karwei nie.
Windpompe draai in die warm wind, maar die tuite wat koel water in damme moet stort, het nie werk om te doen nie, nie ‘n enkele druppel om te karwei nie.
Ek weet nie of ek my verbeel nie, en of dit nie net dalk my eie angstigheid is wat ek in hul oë gereflekteer sien nie, maar die skape wat in die veld oor is, lyk verwese en paniekbevange waar hul langs ‘n droë watertrog staan. My hart wil breek; maar wat kan een mens tog nou doen aan so natuurramp?
Baie, blyk dit wanneer jy na die storie van Burre Burger kyk.
Dié man het in 2017 sélf diep onder in die donker put van mismoedigheid beland toe die droogte ook vir hóm geknak het. Burre het toe ‘n punt bereik waar hy nie meer hoop vir ‘n uitkoms gehad het nie. Hy wou sy eie lewe neem. Tog het hy deur dié depressie gekom en tot die besef gekom dat hy vir mense wat in ‘n nog slégter bootjie as hy was, iets kon beteken. Só het sy liefdadigheidsorganisasie, Droogtehulp, die lig gesien. Verlede jaar Maart het hy en sy helpers die eerste vrag noodvoer en ander voorraad aan droogtegeteisterde landbougemeenskappe begin lewer. Nou, ‘n jaar later, is Droogtehulp al ‘n geoliede masjien en kan Burre staatmaak op die hulp van meer as 30 medewerkers. Hulle kan uitreik na boerderygemeenskappe danksy skenkings, afslag van sakelui wat simpatie met die saak het en die toegewydheid en deursettingsvermoë van Burre en sy span.
Teen laat verlede jaar, het Burre se organisasie al bykans 7 000 boere in die Wes-, Oos-, Noord- en Suid-Kaap, asook dele van die Kalahari gehelp. En hul onderskei nie tussen kommersiële boere of kleinboere nie - waar daar nood is, en hulle het die voorraad, help hul.
Burre se visie strek ook verder as net die plase. Hy verduidelik dat hele gemeenskappe daaronder ly wanneer boere swaarkry. Om dié rede deel Droogtehulp ook in baie gevalle kospakkies aan plaaswerkers. Vir dié hulp, neem Droogtehulp in baie gevalle hande met ‘n ander welwillendheidsorganisasie, gift of the Givers.
Nou mag jy dalk vra: Hoe baat Burre Burger hierby. ‘Die hoop wat ek en die mense wat saam met my werk kan gee, is wat ons sterk maak, wat maak dat ons aanhou. Om nou en dan vir ‘n boer voer vir sy diere te gee, het nie ‘n langdurige uitwerking nie. Maar wat die verskil maak, is die hóóp wat ons vir daardie boer en sy naastes gee,’ sê Burre.