Boer vooruit met knoffel

Posted in Latest News

AGRIPULSE – NOORDWES - Minder as die helfte van die 4 500 ton knoffel wat jaarliks in Suid-Afrika verbruik word, word plaaslik gekweek.

Dit laat dus baie ruimte vir boere om toe te tree tot die plaaslike knoffelmark. Daar is ‘n groot vraag na goeie gehalte plaaslik geproduseerde knoffel - die verbruiker is nie meer tevrede met die swak kwaliteit ingevoerde Chinese knoffel wat op ons winkelrakke verskyn nie, meen Jacques Terblanche Graceland van Garlic Seeds in Springs, Gauteng.
Knoffel is ‘n wintergewas nie net omdat dit van die koue weer hou nie maar verkies ook die korter dae van ons wintermaande. Gedurende die langer dae van ons somermaande kry die plant meer geleentheid om te fotosinteer wat veroorsaak dat die plant sy energie verbruik in die blare en nie die bol nie. Dit is belangrik om by die regte planttyd te hou wat van Februarie tot Maart strek in die binneland en tot in April in die westelike dele van ons land.
Knoffel is rypbestand en groei in bykans enige klimaatstreek en grondtipe. Uie is ‘n goeie maatstaf om te gebruik. Wanneer uie goed doen in jou omgewing behoort knoffel ook uitstekend te vaar.
Dit is net belangrik dat die grond goed gedreineer moet wees. Die saadbeddings kan gelig word om dreinering te verbeter.  Maak seker dat die grond goed belug is en nie gekompakteer is nie.
Die grondslag vir ‘n goeie oes is goeie saad – ‘n mens kan ongelukkig nie ‘n goeie oes van swak saad verwag nie. Die knoffelhuisie wat binne-in die bolletjie groei, is die saad wat gebruik word by die verbouing van knoffel. Een van die grootste foute wat voornemende boere maak, is om winkelsaad teen ‘n goedkoop prys te koop en te plant.  Winkelsaad word behandel en is dikwels steriel en maak minderwaardige bolle.  Dit is belangrik om ‘n grondontleding te doen voordat jy plant om sodoende die pH-balans in die grond reg te stel. Die optimale pH-balans vir knoffel is ongeveer 6.  Knoffel verkies ‘n fyn saadbed en mooi gelyke en eweredige beddings wat opdamming voorkom. Knoffel wil klam bly maar nie in die water lê nie.
‘n Ekonomiese plantestand vir ‘n ideale knoffelland is 250 000 saadjies per hektaar – met ander woorde min of meer 25 saadjies per vierkante meter. Knoffel word grotendeels met die hand geplant, maar daar is boere wat gemeganiseer het en van planters gebruik maak. Die saadjies word met die platkant van die huisie na onder en die puntjie na bo ‘n duimdiepte in die grond geplant.
Knoffel verlang ongeveer 25mm water per week. Hoewel drupbesproeiing goed werk vir knoffel aangesien dit vermorsing van water minimaliseer is dit nie ‘n voorvereiste nie. Dit is ook baie voordelig om drup te gebruik veral wanneer jy jou kunsmis ook deur jou besproeiingstelsel toedien.
Dit is ‘n goeie idee om ‘n vooropkoms-onkruiddoder te spuit om te voorkom dat onkruide vervuil. ‘n Kombinasie van hande-arbeid en chemiese onkruidbeheer blyk die effektiefste te wees. ‘n Standaad uiespuit program kan gespuit word om insekte te beheer en die plantjies mooi sterk en gesond te hou.
Knoffel neem sewe maande vandat jy dit plant totdat dit oesgereed is. Wanneer 30% van die plantjies bruin verkleur en omval kan jy maar begin oes. Na oes kan die knoffel vir ‘n dag of drie in die son in hopies lê om seker te maak dat al die grond wat rondom die bolle versamel het, afgeval het. Dit kan nou in bondeltjies opgehang word totdat die lobbe uitgedroog het. Die blare kan dan so 3cm bokant die bol afgesny word. Hierna kan die bolle vir die mark verpak word.
Een van knoffel se grootste voordele is dat dit ‘n baie lang raklewe het. Dit kan dus teruggehou word indien die markprys nie na wense is nie. Knoffel kan vir etlike maande teen kamertemperatuur gestoor word. Dit is wel baie belangrik dat dit in ‘n goed geventileerde omgewing geberg moet word.
Dit is goeie praktyk om knoffel nie jaar na jaar op dieselfde grond te plant nie om swamme en siektes te vermy. Graceland Garlic Seed is vyf jaar gelede deur mnr Jacques Terblanche ‘n gestremde motiveringsspreker en sy pa, Dereyck, in die lewe geroep. Aanvanklik is dit as ‘n aanvullende inkomste vir Jacques bedryf maar vandag is dit ‘n heeltydse boerdery en een van Suid-Afrika se mees gerekende saadverskaffers wat saad in groot dele van Suid-Afrika en die res van Afrika verskaf.
Vir meer info rondom die verbouing van knoffel en saadpryse, kontak gerus vir Jacques by 082 33 22 600 of besoek www.gracelandgarlicseed.com. Volg gerus ook die Youtube-skakel https://www.youtube.com/watch?v=6BAv6rZzbec vir ‘n onderhoud wat op Landbouradio uitgesaai is.  Jacques kan ook geskakel word by 082 33 22 600 of by die epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of die webtuiste www.gracelandgarlicseed.com