Die uitplant van groot bome sit nie in enige man se broek nie…

Posted in Latest News

AGRIPULSE – NOORDWES - Elders in hierdie uitgawe vertel oom Hennie en Pieter van Rensburg van Kiepersol Kwekery/Tree Traders hoe dit gebeur het dat dié kwekery so half aan die voetenend van die Magaliesberg sekerlik een van die bekendste grootmaat-verskaffers van jong en gevestigde (groot) bome in die Noordwes-provinsie geword het. Sentraal in die verhaal natuurlik is die Van Rensburg-familie en ene Patrick Watson, ‘n man wat destyds namens Sun International vir die grootskaalse aankoop van groot en goed gevestigde bome verantwoordelik was en vandag steeds ‘n spesialis op die terrein is.

As ‘n “span” het Kiepersol Kwekery en Watson ‘n gedugte span geword in die hervestiging van letterlik honderde reuse ou bome.  Die hervestiging van groot bome is baie handig (nie net uiters moeilik en ‘n gespesialiseerd nie) onder diegene wat ‘n nuwe huis, sakeperseel of, trouens enige eiendom gekoop het en nie noodwendig die gerief van tyd aan jou kant het nie. Enigemand wat enigiets van bome af weet, sal jou vertel dat dit maar meestal die beste deel van 10 jaar or langer kan neem voordat die meeste bome darem as ‘n “groot” boom kan kwalifiseer. Daarom dat Kiepersol Kwekery se “motto” “Ons verkoop tyd” ‘n baie gepaste beskrywing van die aard van die besigheid is.  Met Patrick Watson steeds ‘n nie-amptelike maar lojale “vennoot” van Kiepersol, beloof die hervestiging van groot bome by Kiepersol om hopelik vir nog baie lank deel van Kiepersol se bedrywighede te wees. (“Dis maar alles net genade”, is oom Hennie lief om te sê). Tydens ons jongste kuiertjie by Kiepersol verlede week het Oom Hennie en Pieter opgewonde vertel dat Watson relatief onlangs van Duitsland en ander buitelandse bestemmings teruggekeer het waar hy hom self verder in die hervestiging van groot bome bekwaam het.  Watson het teruggekom met ‘n tipe plant- of boom-toediening in sy sak waarmee ‘n groot boom behandel word voordat dit vir finale uitplanting bestem is. Dié middel help die boom om baie van sy natuurlike vog te behou wanneer dit verplant word om dus aansienlik minder “broos” te wees totdat die boom se wortel behoorlik “grondgevat” het. Dit is wonderlike nuus vir diegene wat byvoorbeeld met ‘n pragtige ou olienhoutboom op hul eiendom spog wat weens een of ander rede geskuif moet word. (Die olienhout is bekend as ‘n pragtige boom wanneer dit eendag groot is, maar is ‘n uiters stadige groeier).
‘n Tweede hulpmiddel is nog ‘n middel waarmee die boom behandel word sodat die fyn haarworteltjies aan die boomwortels veel vinniger ontwikkel om na water en voeding te “soek” sodat die boom as’t ware salig onbewus is van die herrie rondom die uitplanting en die hervestigingsproses. Slim nê? So, koop gerus jou boom groot, maar maak seker dat jy dit by Kiepersol Kwekery koop! Skakel Kiepersol sommer vandag nog by 083 325 3177 (Hennie) of 083 325 0865 (Pieter).