‘n Oorsig van die 2018/2019 Rosyne-seisoen

Posted in Latest News

AGRIPULSE - GEMSBOK - UPINGTON: Die produksiegebied teen die Oranjerivier, veral die Oostelike areas, is die afgelope paar jare geaffekteer deur rypskade gedurende die maande van September, tot so laat as middel Oktober.

Mnr. Ferdie Botha van Raisins South Africa sê vir die afgelope produksieseisoen (2018/19) is geen rypskade aangemeld in die tradisionele droogdruif areas nie. Vroeë tafeldruiwe-areas het wel koue-skade ondervind.
Die begin van die afgelope seisoen was uit ‘n klimatologiese oogpunt, baie uitdagend. Nadat die vorige seisoen op ‘n normale wyse afgesluit het (teen die Oranjerivier), en die verwagte reserwe-status van wingerdstokke relatief goed was, het ‘n warm periode in die middel van Julie aanwakkering van wingerde in sekere areas teweeg gebring. Met die aanwakkering van ogies op ‘n vroeë stadium word daar ook spekuleer oor moontlike koue-skade (witloot-verskynsel) met baie koue temperature na hierdie hitte-spel wat ervaar is. In die vroëe produksieareas van die Oranjerivier was daar rypskade op sekere blokke, maar dit was meestal tafeldruif-produsente wat hierdeur geraak is, siende dat die rosyntjie-kultivars nog nie op daardie stadium gebot het nie.
Teen die Olifantsrivier was daar amper geen opbou van koue eenhede vir die afgelope winter nie en Juliemaand was gemiddeld 3.5°C warmer as die langtermyn gemiddeld (Gert Engelbrecht, Vinpro, Vredendal, 2018). In ‘n positiewe lig was die Clanwilliamdam weer vol, alhoewel die impak van 2017/2018 droogte steeds ervaar is in die afgelope seisoen en dit sal heel moontlik in die oes-volume reflekteer.
Botha sê voorts wingerde het tot ‘n mate gelyktydig gebot teen die Oranjerivier, maar met geweldige temperatuurskommeling tussen dag en nag net na hierdie fase, het nie goeie vegetatiewe groei gegee nie. Met minder vegetatiewe groei is daar nie noodwendig risiko van druiwe wat afspeen nie. Temperature het egter ‘n beduidende rol in die blom en vrugset periode gespeel. Gedurende die blomperiode het hoë temperature met gepaardgaande winde geheers (hitte-golwe gedurende Oktober 2018). Wanneer ‘n druiwestok aan die tipe klimaatsfaktore blootgestel word, raak die risiko van speen hoog vir hierdie sensitiewe fenologiese fase.
Kultivars wat uiters sensitief is, soos Sultana, het in hierdie tyd ‘n aansienlike hoeveelheid trosse aborteer en het gevolglik oor die algemeen minder druiwe aangehad. Dieselfde verskynsel is ondervind met Korente teen die Olifantsrivier, wat die helfte van die oppervlak van aangeplante rosyntjie-kultivars uitmaak. Die blom-periode was uitgerek, wat ook ongelykheid in die oes-rypheid teweeg gebring het. Die rosyntjie-oes was tussen 7-14 dae later as in die verlede, vir beide die Oranje- en Olifantsrivier.  
Die verwagting is dat die oes dieselfde as die vorige jaar vir die Oranjerivier sal wees, met jong aanplantings wat in produksie kom. In die Olifantsrivier is die verwagting dat die oes groter as 2017/2018 sal wees, maar steeds nie die volume van 2016/2017 gaan haal nie. Die gevolg van die droogte van 2017/2018 was steeds ervaar met laer vrugbaarheid en ‘n afname in hektare wat voluit in produksie is. ‘n Totale oes van ongeveer 65,000 – 70,000 ton word verwag.