Kiwivrug – is dit die nuwe “groen goud”?

Posted in Latest News

AGRIPULSE – NOORDWES – RUSTENBURG - Boere in die Noordwes-provinsie sal jou skeef aankyk as jy vra waar en wat die beste streke en die beste landboupraktyke vir die verbouing van die kiwi in die “platinaprovinsie” is. In skerp kontras met die voorkeure van die kiwivrug is die Noordwes-provinsie inderdaad ‘n baie warm streek. Maar moenie glo nie, ‘n boer van die plaas Steinfurt aan die oewers van die Olifansnekdam net buite Rustenburg, boer al vir jare met die kiwi.

Mnr Ekkehard Pape is vir jare al ‘n suksesvolle en veelsydige boer feitlik teen die suidelike hange van die Magaliesberg. Hier is die wêreld uiters berug vir sy geniepsige winterkoue. Die kiwivrug is oorspronklik van Indië maar word nou al vir dekades met groot sukses in Nieu-Seeland verbou – vandaar die naam “kiwivrug” natuurlik. Die kiwivrug is egter eers in die vroeë 1980s aan Suid-Afrika bekend gestel. Die gewildheid van die kiwivrug en die vraag daarna op wêreldmarkte het in die laaste paar jaar skerp toegeneem en hoë pryse word daarvoor in die VSA en die Ooste betaal. Belangstelling en verbouing van die kiwi het sedertdien ook betreklik vinnig toegeneem.
Klimaatsvereistes
Die kiwiplant is bladwisselend en verkies gebiede met koue winters want dit het ‘n minimum winterkouebehoefte van 400 tot 500 ure benede 7°C. As dié kouebehoefte nie bevredig word nie, word minder blomme gevorm wat uiteraard tot veel kleiner produksie lei. Dit is veral van toepassing by die Hayward-cultivar – tot dusver die belangrikste cultivar wat in Suid-Afrika verbou word. Te veel warm wintersdae as gevolg van sonskyn kan natuurlik die invloed van die nag se koue neutraliseer en in sulke gevalle is selfs nog langer tydperke minder as 7°C nodig.
Grondvereistes
Kiwivrugte groei die beste in vrugbare en goedgedreineerde grond met ‘n pH van ongeveer 6. Swaar, nat gronde moet vermy word. Deur gebruik te maak van grondwalle waarop die plant gevestig word, kan grond wat soms neig om te nat te word, verbeter word.
Op sanderige grondtipes waar die voghouvermoë van die grond laag is, is oordeelkundige besproeiing nodig sodat die plant nie aan vogspanning blootgestel word nie. Die grond moet voor aanplanting teen aalwurm behandel word.
Cultivars
Daar is ses meer bekende kiwi-cultivars, maar feitlik net een word vandag nog in Nieu-Seeland aangeplant, naamlik die Hayward. Ook in Suid-Afrika word Hayward bo ander cultivars vir die uitvoermark verkies. Hayward dra groter vrugte as die ander cultivars, dit het ‘n beter houvermoë, die vrugte word egaliger ryp en dit het ook die beste smaak vanweë sy hoë suikergehalte. Die cultivars haal ook die beste pryse op uitvoermarkte. Ander erkende cultivars is Abbott, Allison en Bruno. Op die Suid-Afrikaanse mark behoort al die cultivars aanvanklik ‘n goeie afset te hê maar daar kan verwag word dat die mark meer gesofistikeerd sal raak namate dit groei. Buiten Hayward kan verwag word dat die ander cultivars tydelik ‘n mark in Europa gedurende Maart en April sal vind, mits hul vrugte groot genoeg is.
Besproeiing
Die kiwiplant is baie gevoelig vir vogspanning gedurende die groeiseisoen. Daar moet dus voorsiening gemaak word vir optimale besproeiing, veral op gronde met ‘n lae voghouvermoë. Op sulke grond, sal ‘n laag saagsels of kompos veral in ‘n jong stadium baie help om die voggehalte optimaal te hou. ‘n Plant wat gedurig aan vogspanning blootgestel word, sal vroeër in die seisoen ophou groei as ander en ook makliker blaarskroei toon.
Bemesting
Die bemestingbehoeftes van die kiwivrug stem baie ooreen met dié van hoogproduserende sagtevrugte. Aanbevelings vir die bemesting van grond voor aanplanting moet gebaseer wees op grondontledings wat na aanplanting gereeld elke twee tot 3 jaar gedoen moet word.
Bemesting met kalium en fosfor kan dus geskied na gelang van die grondontledings.Vir stikstofbemesting van kiwiplante is grondontledings nie nodig nie, want ‘n bepaalde hoeveelheid stikstof moet jaarliks toegedien word.
Opleistelsels
Die kiwitplant is ‘n rankplant en hoewel die stam later dik word, is dit nie in staat om die gewig van die loof en die vrugte te dra nie.
Dit moet dus opgelei word. In Nieu-Seeland word hoofsaaklik twee opleistelsels gebruik, naamlik die T-prieël en die dakprieël.
Hierdie stelsels is ook geskik vir Suid-Afrikaanse toestande en dit is nie nodig om in hierdie stadium van die bedryf met ander stelsels te eksperimenteer nie. Die manlike plant kan ‘n bietjie skoongemaak word in die winter, maar die hoofsnoei word net na blomtyd gedoen. Die vroulike plant word so gesnoei dat die draers by die T-prieël oor die kant van die prieël hang om ‘n gordyn aan weerskante van die prieël te vorm. Hieredie draers is eenjarige hout (die vorige seisoen se loot) en word op so ‘n lengte afgesny dat die punte van die lote ongeveer 60 cm bo die grond is wanneer hulle die volgende seisoen deur die gewig van die vrugte afgetrek word.
Windskerms
Die belangrikheid van voldoende windskerms in gebiede waar plante windskade kan opdoen, kan nie oorbeklemtoon word nie. In die algemeen is dit die aspek wat die meeste deur produsente afgeskeep word. Aangesien jong plante ernstig deur wind beskadig kan word, moet doeltreffende beskerming teen wind verleen word wanneer die plante die eerste keer na plant bot.