VLU-lede byeen vir provinsiale NWVLU-kongres

Posted in Latest News

AGRI-PULSE - POTCHEFSTROOM - Lede van die Vrouelandbou-unie (VLU) in Noordwes het verlede week hul provinsiale kongres in die studentestad (Potchefstroom) gehou.

Vroue van regoor die provinsie het vir twee dae by Christa Gali saamgetrek om saam te kuier, na interessante sprekers te luister en kompetisiewerk te beoordeel tydens die jaarlikse NWVLU-kongres. Dit het ingesluit hekelwerk, fotografie, skryfwerk, gebak, en ander kunswerke. Die dames het ook meer as 80 gehekelde babakomberse aan Solidariteit se Helpende Hand geskenk. Flip Buys van die organisasie het die groot geskenk in ontvangs geneem en die gehoor toegespreek oor die behoefte aan hulporganisasies in die provinsie se afgeleë gebiede. Hy het ook uitgewei oor hul projekte wat graad 1-skoolbehoeftes voorsien en hul beurse vir skoolverlaters. Die VLU het self ‘n studiebeurs toegeken aan een van hul lede se kleinseuns. Nog hoogtepunte was die skrywer en taalkundige Sophia Kapp wat as spreker opgetree het en meer vertel het oor haar werk by Viva. Dr Rina Muller verbonde aan die verpleegkunde department aan die NWU het vroue aangemoedig om kinders se inentings op datum te hou.
Die VLU het ook kentekens vir jarelange lidmaatskap uitgedeel. Die kongres is afgesluit met die toekenning van trofeë aan lede wat die onderskeie kompetisies gewen het. Die provinsiale kongres sal volgende jaar in Rustenburg plaasvind.