Hartbeespoortdam: Die alg in die salf

Posted in Latest News

AGRI-PULSE - Die Hartbeespoortdam lê in a vallei Suid van die Magaliesberge en Noord van die Witwatersberge.

In 1906 het die regering begin kyk na die moontlikheid van ‘n dam in dié vallei en in 1909 is toetsgate gemaak om te bepaal of die rotsformasie op die bodem van die rivier geskik sal wees om só groot dam te kan dra.
Konstruksie van die dam het in alle erns is 1916 begin, maar vloede het ‘n paar keer die werk laat ontspoor. Ook die Eerstewêreldoorlog (1914-1918) het ‘n rol gespeel, maar eindelik is die April 1923 voltooi. Die damwal is 149.5m lank en 59.4m hoog en die dam word deur die krokodilrivier en die Magaliesrivier gevoed. Die doel van die dam was om besproeiïng vir die omliggende gebiede se landboubedrywighede te voorsien, maar vir dekades al word daar gekla oor die gehalte van die dam se water. Hoewel daar moed geskep is tydens Waterwese se ‘Metsi a me’-program die 10 jaar tussen 2006 en 2016, het die dam weer die afgelope vyf jaar dramaties agteruit gegaan. Tot so ‘n mate dat  die toestand van die dam nou byna as ‘n ramp beskryf kan word. En die skuld kan vierkantig voor die deur van swak regeringsbestuur gelê word. Talle van die werkbare projekte wat al aangepak is, is gestaak sodra dit lyk asof hulle vrugte begin dra. Hoewel Suid Afrika in die verlede toonaangewend in die wereld was op die gebied van water, is verskeie kenners nou al van menige dat Suid-Afrika nie ‘n land van watertekort is nie, maar inderdaad ‘n land van waterbestuurtekort. Die probleem met die Hartbeespoortdam is nie eens ín die dam nie - nee, dit kom van ver af. Stroomop word die water besoedel deur stukkende rioolwerke, of informele woongebiede se rou riool en al is honderde miljoene rande al vir projekte geoormerk om die dam te help, loop dit telkens op niks uit nie. Die afgelope klompie jare is dit veral die welige groei van waterhiasinte in die dam wat die nuus haal.
“ Die dam se grootste probleem is nie hiasinte nie. Die grootste probleem is alge,” vertel Petrus Venter, ‘n waterbron bestuurder van die departement van Waterwese  wat al baie jare lank betrokke is by die Hartbeespoortdam. “Die hiasinte is glad nie ‘n onoorkombare probleem nie. Die alge is ‘n aansienlik groter kopseer,” voeg hy by.
En, sê Petrus, die byna totale gebrek aan die natuurlike funksioneering van die water ekosisteem met die afwesigheid van oewerplante is grootliks verantwoordelik vir die stand van sake in die dam. Want sonder natuurlike oewerplante kan ‘n gesonde ekosisteem nie gehandhaaf word nie. “’n Gebrek aan gesonde, natuurlike oewerplante beïnvloed die hoeveelheid en verskeidenheid van die vis en voël-bevolking. Dit is ‘n klassieke kettingreaksie, want die zooplankton en selfs ons inheemse Bloukurper visse vreet op hul beurt die alge en keer só dat daar nie ‘n oormaat alge is wat verrot nie.” Hierdie versteuring maak dat  daar egter nie genoeg van die regte soort spesies vis in die dam is nie en die oormaat alge veroorsaak die onsmaaklike reuk wat gereeld oor die dam hang in somer maande.
‘n Ander bydraende faktor is weliswaar ook die storting van riool, wat ‘n enorme neerslag van fosfaat tot gevolg het. Dit is in dié fosfaatryke water waarin hiasinte en die alge floreer.
Maar om terug te keer na die alg-probleem:
“Dié alge, wanneer hul besig is om te verrot, word male sonder tal aangesien vir menslike uitskeiding. En dit ruik ook asof dit inderwaarheid ontlasting is,” vertel Petrus. Die antwoord is egter nie om bloot nou die dam vol visse te stop nie. “Dit is ‘n delikate kwessie van balans. Ons het begin met ‘n projek wat ten doel gehad het om hierdie balans to probeer herstel, maar ongelukkig is daar sowat 5 jaar gelede besluit om die betrokke projek te stop en te privatiseer. Vanwee ‘n tekort aan politieke wil het dnognie gerealiseer nie. ,” sê Petus. Die projek ter sprake het begin om die natuurlike plantegroei langs die oewers te hervestig - in plaas van die gemanikuurde grasperke wat op baie plekke langs die dam die natuurlike plantegroei vervang het. Daar was teen 2016 al reeds meer as ‘n duisend of 4.2km drywende inheemse vleiland plant gevestig op die dam Die projek moes ook fokus op die verwydering van die toenemende lading sedimente - elemente wat deur vloedwater in die dam in gespoel word. Dit sluit in elemente soos boomstompe, stukke van die oewer wat deur erosie uitgebreek word, asook enige ander vreemde voorwerpe en rommel wat deur vloedwater die dam ingebring word. “Na ‘n vloed het ond al motorwrakke in die dam gekry, asook baie stukke van huishoudelike items, meubels, ens. Ons het al dele van informele huise uit die water gehaal,” vertel Petrus. Met die bou en vestiging van drywende eilande of tewel ‘floating wetlands’ in die dam, is groot sukses bereik in ‘n baie kort tyd. Dié drywende eilande het as biologiese filters gedien en was ook elkeen ‘n mini-ekosisteem, elkeen ‘n web wat interafhanklik funksioneer, en floreer het. Dié projek was, op sy kruin, die grootste kunsmatige drywende vlei-eilande ter wêreld. Ongelukkig het die regering die projek op ys gesit - en nou staan derduisende rande se toerusting ongebruik langs die dam. “‘n Dam is presies soos ‘n plaas. Jy moet hom deeglik bestuur en jou hand daagliks oor alles hou. Jy moet ook so na as moontlik aan sy natuur met hom werk om nie die ekosisteem te ontwrig nie, want lol jy met één skakel, dan kan die hele sisteem inmekaar val. En só versteurde sisteem is die resultaat wat ons nou mee sit by die dam,” meen Petrus.