E-boeke op sosialemedia vermoor Afrikaanse boekebedryf

Posted in Latest News

Deur Christelle van Rooyen-Wessels

AGRI-PULSE – RUSTENBURG - Die afgelope ruk word die ‘deel’ van boeke in pdf- of ander formate  op sosialemedia weer vurig bespreek.

Want dit blyk dat baie mense meen dat dit hul ‘gelukkie’ is om boeke gratis te kan lees. Daar is selfs van die groepe wat hul dade probeer regverdig deur aan te voer hulle ‘beveg depressie’. En die ergste is dat ‘n hele gros van hierdie mense verkondig hoe verskriklik lief hulle vir hul taal is. Maar dink één van dié wat so – en kom ons noem dit maar sommer op die naam – steel vir ‘n oomblik aan die skrywers?
Bittermin Afrikaanse skrywers word ryk uit boeke skryf. Meeste skryf omdat hul stories het om te vertel. Baie skrywers kan dit nie bekostig om uit nét hul skrywersinkomste te lewe nie en moet hul passie deel met ‘n ‘day job’.
Die onregmatige deel van digitale boeke, tydskrifte en so meer is nie ‘n nuwe ding nie. Saam met die groei van boodskapforums soos Whatsapp en Telegram (maar nie net dié twee nie), het die voorkoms van hierdie soort misdaad ook toegeneem.
Wat word beskou as onwettig?
Daar is ‘n verskil tussen inligting wat digitaal beskikbaar is teenoor ‘n boek wat gratis, en sonder toestemming, gedeel word. As daar kopiereg op inligting is, kan dit nie goedsmoeds gedeel of versprei word nie. En, onthou sommer kopiereg is geldig vir 50 jaar – bereken vanaf eerste publikasie.
Die eienaar van kopiereg het alleenreg om kopieё te maak en te verkoop - dit sluit elektroniese kopieё in. Resensies en studiemateriaal is uitgesluit – uittreksels mag daarin verskyn – maar dan moet die oorspronklike titel, en bronne, duidelik aangedui word. As jy dus regtig so baie vir Afrikaans omgee, moenie deel raak van hierdie nes nie.  Indien só sosiale groep oor jou pad kom, wys hulle daarop dat wat hulle doen - om digitale boeke gratis rond te stuur – ‘n misdaad is.
President Cyril Ramaphosa het boonop nou vroeg in Junie die Kubermisdaadwet bekragtig en nou kan hierdie tipe misdadigers meer as net ‘n hou oor die vingers verwag – hulle kan nou tronkstraf van tot 15 jaar in die oë staar.  
Christelle van Rooyen-Wessels is die skrywer van die misdaadromans Adder en Brandmerk. Beide die boeke word deur Penguin Random House SA uitgegee. (Foto: Philip Wessels)

Lees meer Hier: http://www.agripulse.co.za/latest-issue