Jongboer nou beste in Noordwes

Posted in Latest News

Deur Danie Jacobs

AGRI-PULSE – Noordwes se Jongboer van die Jaar boer saam met sy pa op hul familieplaas net buite Hartbeesfontein en volgens dié jongman is dit wonderlik om al die kennis en ervaring byderhand te hê.

Wernich Lemmer (34) is einde Mei as Agri Noordwes en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar aangewys – ‘n titel waarop hy trots en dankbaar is. Hy is sedert 2018 voltyds op die plaas en sê hy sou nooit drie jaar gelede kon droom dat hy ooit die prys sou wen nie. Tydens die oorhandiging het Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, gesê die toekoms van landbou is in die hande van ʼn nuwe en jonger geslag, en as hy om hom rondkyk dan raak hy opgewonde oor die toekoms. Die naaswenners is Andries Coomans (Agri Excelsior) en Christo Greyling (Agri Sannieshof).
As die algehele wenner sal  Lemmer die provinsie later vanjaar in Agri SA en Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig. Agri Noordwes het op twee vorige geleenthede (2014 en 2018) met die nasionale Jongboer van die Jaar gespog.
In sy gelukwensing aan die wenners het Francois Strydom, Senwes Groep: HUB, gesê dat die Suid-Afrikaanse landbou ʼn baie geseënde tydvak geniet met onder meer goeie reën neerslae, oeste wat belowend lyk en positiewe markpryse. Dit is binne hierdie milieu dat jong produsente ʼn sleutelrol speel. “Plase en boerderye ontwikkel nie oornag nie, dit gebeur oor geslagte heen en jong produsente bevind hulself aan die voorgrond van ontwikkeling en vernuwing. Die toekoms van kommersiële landbou rus in hierdie en opkomende generasies se hande,” sê Strydom. As ʼn gekwalifiseerde en professionele meganiese ingenieur, het Lemmer eers as sisteemingenieur by die Matimba-kragstasie in Lephalale gewerk. Hy het dié beroepsveld in 2018 vaarwel geroep om voltyds in die familieboerdery betrokke te wees, en boer op die plaas Lemmersville. Sy boerderyvertakkings bestaan uit 80% mielieproduksie en 20% beesproduksie en dit is sy visie om die boerdery verder generies uit te brei en om ook ʼn derde kontantvloei-vertakking te begin.
“Die belangrikste is egter om as rentmeester nederig te bly en in jou geloof geanker te bly. As produsent is jou geloof jou belangrikste medewerker,” sê hy.
Die jongboer is die sesde geslag Lemmers op Lemmersville, net buite Hartbeesfontein.
Hy is met Annerie getroud en hulle het ‘n tweejarige dogtertjie, Mariné.

Lees meer hier: http://www.agripulse.co.za/latest-issue