GRACELAND HYDROPONICS: Revolusionêr - groei komkommers sonder grond!

Posted in Latest News

AGRIPULSE - BRITS - Graceland Hydroponics, buite Brits, is al meer as 15 jaar in bedryf en is tans een van die grootste komkommerprodusente in Suid-Afrika.

Graceland het twee aanlegte, een in Silkaatsnek en die ander op Kleinfontein. Hier word komkommers en Palermo-soetrissies geplant en geoes. Saam beslaan hierdie twee aanlegte ses hektaar van geslote kweekhuise (0.5 hektaar per kweekhuis), sowel as ‘n verpakkingsfasiliteit. Graceland Hydroponics lewer aan groot, plaaslike kleinhandelaars soos Spar, Pick n Pay en Fresh Mark. AgriPulse het die aanleg in Silkaatsnek, waar twee hektaar komkommers in vier kweekhuise geplant word, besoek en met die bestuurders, Eugene Smit en Frans Visser, gesels. “In Brits is die somers baie warm en droog, met hoë insekdruk. Die winters is koud en soms ryp dit,” het Frans Visser gesê. “Komkommers is uiters sensitief vir temperatuurskommeling en daarom is ons hidroponiese kweekhuise ideaal om ‘n stabiele klimaat met matige tempertatuur daar te stel om sodoende suksesvolle produksie en hoë opbrengste te verseker.” By Graceland word alle saailinge net in dennehoutskaafsels geplant om die wortels te ondersteun. Vars water en voedingstowwe word 8 tot 10 keer per dag, direk aan die wortels toegedien. “Omdat die temperatuur en die humiditeit in die kweekhuise voortdurend gemonitor word, kan ons reg deur die jaar plant. Van die plant van die saailinge tot die oes duur ongeveer vier tot ses weke, maar dit is uiters arbeidsintensief,” het Visser gesê. Om komkommerplante so produktief moontlik te kweek, moet hulle gereeld gesnoei word. Die ranke moet voortdurend verwyder word, want indien dit te lank is, kan dit probleme met instandhouding veroorsaak.  “Ons komkommerplante word ongeveer 2,5m hoog en deur ‘n lus gelei wat dan nog ‘n verdere 2,5 meter groei. Nadat die plante die maksimum groei bereik het en die komkommers geoes is, word dit heeltemal verwyder en 16 000 nuwe saailinge per hektaar geplant. In ‘n jaar word hierdie siklus drie keer herhaal en ongeveer drie miljoen komkommers geoes.
* Die verskil tussen hidroponika, akwaponika en aeroponika: Hidroponika gebruik vloeibare of ander materiale soos houtskaafsels om plante weg van die grond te laat groei. Die plante se wortels kry voeding uit water wat met vloeibare plantvoedsel verryk word. Aeroponika is ‘n metode om plante in ‘n vogtige omgewing te verbou. Die plante hang in ‘n geslote omgewing en water, gemeng met plantvoedsel, word op die wortels gespuit. Akwaponika verskil van hidroponika en aeroponika. Akwaponika is ‘n kombinasie van akwakultuur en hidroponika. Deur vis by te voeg, ontstaan ‘n natuurlike ekosisteem waarin visse, plante en bakterieë van mekaar en voordeel uit mekaar se teenwoordigheid put.  Akwaponiese-stelsels werk deur van die afval van vis te gebruik om natuurlike voedingstowwe aan waterplante in die omgewing te voorsien.  Aangesien hidroponika, aeroponika en akwaponika nie grond gebruik nie, kan dit binnenshuis gevestig word op plekke met ‘n koue en ongure klimaat. Hierdie kweekmetodes kan ook gebruik word in gebiede met swak sanderige grond.  Waterboerdery kan die manier wees waarop ons ons groeiende bevolking voed.

Lees meer HIER.