GESOEK: Die beste van Suid-Afrika se gewildste wynkultivar

Posted in Latest News

AGRI-PULSE - UPINGTON - Vanjaar se stryd om die beste wyne van Suid-Afrika se gewildste kultivar te bepaal, het sopas begin.

Inskrywings vir die 2021 Sauvignon Blanc SA Top 10-Kompetisie, die enigste kompetisie in die land wat aan Sauvignon Blanc toegewy is, is nou oop.
Volgens die Sauvignon Blanc SA voorsitter, RJ Botha, speel hierdie jaarlikse kompetisie ‘n belangrike rol om die beeld van Sauvignon Blanc, die topverkoper-variëteit in die land, te bevorder.
“Die Top 10-kompetisie bied nie net aan produsente ‘n geleentheid om hul wyne te meet teen ander Sauvignon Blanc in die land nie, maar ook om vir uitblinkergehalte beloon te word met ‘n Top 10-toekenning – die toppunt van erkenning wat uiters waardevol in die bemarkingswaarde van individuele wyne is. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van ons platinumvennote FNB en EVER Solutions wat hierdie gesaghebbende kompetisie moontlik maak.”
SKRYF WEER AANLYN IN EN ‘N SPESIALE AANBOD VIR DOUTRAPPERS
Produsente en kelders kan, soos die afgelope twee jaar reeds,  aanlyn vir die kompetisie op Sauvignon Blanc SA se webwerf by www.sauvignonblanc.com/top10-entry inskryf.
Lede kan gedurende die eerste week (tot Sondag 1 Augustus 2021) teen ‘n verlaagde doutrapper-fooi (“early bird”) inskryf met geen verhoging in inskrywingsfooie oor die afgelope twee jaar nie. Inskrywings sluit op Dinsdag 17 Augustus 2021, met laat inskrywings wat tot Vrydag 20 Augustus 2021 aanvaar word.
Botha sê die kultivarorganisasie wil daarmee graag alle produsente – groot én klein – aanmoedig en uitdaag om in te skryf, en dat hulle uitsien daarna om nuwe handelsmerke te verwelkom.
“Wat in die Top 10-kompetisie uitstaan, is wynmakers se innovasie in styl en geurprofiele van Sauvignon Blanc, wat veral ook opwindend is gegewe die toekomspotensiaal vir meer gehoute Sauvignon Blanc-wyne. Dit én die potensiaal van diversiteit in oorsprong met verlede jaar se Top 10 wat uit sewe verskillende streke aangewys is. Ons het hoë verwagtinge van die 2021-oesjaar, maar soos ons die afgelope jare sien is daar telkens ouer oesjare wat steeds ook uitstekend presteer.”
’n Paneel vooraanstaande wynkundiges sal die aanspraakmakers van Dinsdag 31 Augustus tot Donderdag 2 September 2021 by Uitkyk Landgoed in Stellenbosch beoordeel. Die beoordelaars span pasgemaakte tegnologie op tablette in wat in samewerking met Stellenbosch Universiteit ontwikkel is om die proses Covid-19-vriendelik, vinniger en meer akkuraat te maak, asook om addisionele data van wynprofiele en meer bruikbare kultivarinligting vir toekomstige navorsing in te samel. Vanjaar se beoordelaarspaneel bestaan uit dr Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en sameroeper van die paneel, Charles Hopkins, keldermeester van De Grendel, wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, wynmaker Rudger van Wyk van Stark-Condé Wyne, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, asook twee aspirantbeoordelaars.
Die 20 finaliste sal in September aangekondig word, terwyl die Top 10-wenners op Woensdag 13 Oktober 2021 tydens die Sauvignon Blanc SA Top 10-toekennings bekendgemaak sal word. ‘n Tegniese seminaar wat inligting rondom die Top 10 deurgee, word op Woensdag 17 November 2021 by Allée Bleue buite Franschhoek gehou.
Enigeen kan ‘n lid van Sauvignon Blanc SA word om die voordele van gedeelde kundigheid te geniet. Vir meer inligting, of om in te teken op ‘n gereelde nuusbrief, besoek www.sauvignonblanc.com, skakel 021 975 4440 of stuur ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..
Word deel van gesprekke op sosiale media oor die #SauvignonBlancSATop10 en volg Sauvignon Blanc SA op Twitter as @SauvignonSA en op Facebook en Instagram as @sauvignonblancsa.

Lees meer HIER.