Jan het ‘n plan – ‘n nuwe manier van water “wys”

Posted in Latest News

AGRIPULSE – NOORDWES - ‘n Pensionaris van Mooinooi net buite Rustenburg in Noordwes, is ‘n man met ‘n kop vir planne. Oom Jan le Roux wat reeds sy 80ste lewensjaar gesien gekom het, laat hom egter nie deur die ouderdom of ander hindernisse van stryk bring nie. In dié stadium is die gesondheid gelukkig nog aan Jan se kant.

Jan is van mening dat hy ‘n plan/patent het (wat ongelukkig nog nie geregistreer is nie) maar wat eerstens ‘n “meganiese enjin” sonder enige addisionele energie of aksie spontaan aan die loop kan hou – byna presies soos die Engelse term “perpetual motion” so pragtig uitdruk. Op sy beurt, dryf die “meganiese enjin” ‘n paar “elektriese opwekkers (“generators”) aan wat ‘n presiese hoeveelheid elektriese stroom opwek om te help met die aandrywing van nog ‘n meganiese (ietwat kleiner) toestel wat energie hiervandaan verder voer na ‘n deeglik nagevorsde meganiese verhitting/verkoelingstelsel wat in ‘n proses wat op gestimuleerde kondensasie neerkom, tot 3 000 liter suiwer drinkwater per dag uit die atmosfeer kan produseer. Hoewel daar reeds enkele “soortgelyke” “masjiene” kommersieel beskikbaar is, kan nie een van hierdie byderwetse modelle naastenby die produksie van sy eie patent handhaaf of selfs ewenaar nie”, sê Jan. Jan meen dat meganiese/elektriese ingenieurs of kundiges in dié veld, of dalk die slimkoppe by die Departement van Minerale en Energie (dalk ook Waterwese en Bosbou) bes moontlik in dié plan sou belangstel, maar hoe gemaak om by dié mense uit te kom? “Miskien is daar mense wat dalk net goeie raad het om aan te bied?”, vra Jan. Mense met idees of ander kundiges wat wonder of daar dalk potensiaal in dié bewering skuil, is welkom om Jan le Roux by tel 072 159 9712 te skakel.
Klik hier op jou elektroniese toestel of gaan na https://bit.ly/wateruitdielug om na ‘n kort video te kyk.