In die hartjie van Hartland

Posted in Latest News

AGRIPULSE – BRITS – By die Brits-afrit, langs die N1N4 Bakwena-snelweg, is Hartland Equestrian Park - ‘n stukkie hemel op aarde tussen majestieuse perde, merkwaardige perdestalle en skouarenas van internasionale standaard.
AgriPulse het in die hartjie van Hartland gaan kuier en die warm hartklop van die eienaars, Kobus en Nicolette de Wet, eerstehands ervaar.

Volgens Kobus, ‘n gebore en getoë Britsie, het hy en Nicolette die landgoed ongeveer drie jaar gelede begin ontwikkel en Hartland Equestrian Park in 2019 gestig.
Benewens die feit dat Kobus en Nicolette passievolle eienaars van perde is, was die grootste rede vir Hartland hulle vyf dogters Emma-Jane, Mckayla, Abigail, Amya en Yahmila, wat van kleintyd af ruiterkuns beoefen.
“Hartland is ons lewe en saam met die dogters se liefde vir perde sal Hartland ‘n blywende nalatenskap vir generasies om te kom, wees,” sê Kobus.
Die passie wat hulle vir perde het, kan duidelik in elke detail op dié landgoed van 14 hektaar gesien word.
Hartland Equestrian Park bied ‘n wye reeks dienste en die professionele span streef daarna om voortdurend uit te brei en die nuutste tendense te implementeer.
Daar is 38 stileringstalle, waar perde se welstand en gesondheid prioriteit is. Al die stalle waar perde gehuisves word, is uitstekend belig en uiters ruim. Daar is ook 202 skoustalle vir besoekers. Perde wat by Hartland op stal is, spandeer meeste van die dag buite in skaduryke kampe.
Daar is drie topklas arenas wat aan internasionale standaarde voldoen: 60 x 100m Klopf Fibre-arena, 60 x 80m Ebb&Flow-arena en 50 x 70m Klopf Fibre-arena.
Vervolg op bladsy 5.
Vervolg van bladsy 4.
*Ebb & Flow-stelsel boots die eb-en-vloed van die getye na.
Dis ‘n stelsel van pype onder die arena wat groot volumes water in die oppervlak vrylaat en dan vinnig weer weg dreineer. Dit verseker ‘n konsekwente versadiging van die oppervlak en skakel die behoefte aan ‘n oorhoofse besproeiingstelsel uit.
*Klopf Fibre is ‘n bymiddel wat die stabiliteit en struktuur van ‘n sandarena verbeter, dit verseker vryheid van beweging en laat die perde toe om bo-op, eerder as in die sand in te werk en vryheid van beweging toelaat en spanning en die risiko van besering verminder.
Om perde optimale versorging te gee, is daar ‘n spesiale loopraam walker, ‘n opwarmingsarena en solariumgeriewe.
*Solariumgeriewe: ‘n stelsel van groot infrarooi-lampe wat hitte afgee.
Dit verbeter die perd se prestasie, verhoog sirkulasie en verminder beserings.
Die hitte-energie wat deur die lampe gegenereer word, dring die vel binne en dit help met opwarming voor oefening en om spiere na oefening los te maak en om perde in die winter vinniger droog te kry.
Perde ontvang die beste voeding, professionele mediesesorg en die dienste van ‘n opgeleide horseman word ingespan vir ‘n holistiese benadering - liggaam, siel en gees van elke perd word optimaal versorg en dít is wat Hartland Equestrian Park uniek en een van die beste arenas in die land maak.
Hartland was onlangs die gasheer vir die eerste kwalifiserende ronde van Sanesa (South African National Equestrian Schools Association) en bied op 2 en 3 Julie 2022 hulle eie Emayah 500-skou aan.
Vir meer inligting oor Hartland Equestrian Park se fasiliteite, skakel Johan Venter by 072 406 6764.