NWVLU Sonneblomstreek hou jaarlikse konferensie

Posted in Latest News

AGRI-PULSE – LICHTENBURG - Sonneblomstreek Vrouelandbou-unie het op 16 Maart hul 27ste Konferensie te NWK Opleidingsaal aangebied, met ‘n hele paar groentjies op die bestuur wat vir die eerste keer die leisels op hul gebied moes neem.

Die Dorwo- en Elan takke was die gasvroue en het hul goed van hul taak gekwyt.  Ds Anton Kleingeld het geopen met skriflesing en gebed waarna Lynette Loots die gaste teenwoordig namens gasvrou-takke verwelkom het. Gené Conradie, Streekvoorsitster van Sonneblom het die gaste voorgestel en daar is hulde gebring aan lede met die aansteek van ‘n kers en ‘n oomblik van stilte is gevra. President van NWVLU, Gerda Swart het die Konferensie amptelik geopen verklaar en haar groeteboodskap gelewer. Louise Herbst (Streekvoorsitster van Platina), Hester Koegelenberg (Nuutverkose Streekvoorsitster van Verwes) en Johan Bezuidenhout van NWK het elk groeteboodskappe gelewer.
Die Du Toit- gesin, ma en twee dogters, het die gehoor met pragtige sang getrakteer terwyl Marizaan Henning en Liezl Venter ‘n mooi vertoning met die viool en dwarsfluit gelewer het. Die bekende en bekwame spreker, Annelien Pienaar het ‘n baie insiggewende praatjie oor verskeie aspekte van voedsel gelewer.  Sy het bruikbare wenke gegee ten opsigte van maaltydbeplanning en gevriesde etes vir jou gesin.  Sy het ook goeie wenke gegee oor voedseletikette en waarna jy moet kyk as jy ‘n produk van die rak af koop. Spesiale lidmaatkaptoekennings is aan lede oorhandig deur die president Gerda Swart, asook spesiale lidmaatskap aan dames wat 50 jaar en langer lede is van die VLU.  Ina Rabé 51 jaar, Florissa Beukes 53jaar, Hulda Verster 53 jaar, Flo Groenewald 53 jaar, Lettie de Bruin 56 jaar, Sally Pretorius 56 jaar, Alice van Wyk 57 jaar, Ria Kotze 58 jaar Ina van Vuuren 62 jaar en Cilla du Plessis 63 jaar.
Francois du Toit van FNB het die dames ingelig oor hul testament – hoe dit deur professionele persone opgestel moet word en dames attent gemaak om ingelig te wees oor alle finansiële sake. Prysuitdeling is altyd ‘n hoogtepunt en Zoetmelkvlei het die trofee ontvang vir die tak met die meeste groei.  Voorsitster Louise Fick van Mareetsane tak ontvang die wisseltrofee vir die beste voorsitstersverslag en Erika du Rand ‘n eerste plek vir haar handvlyt artikel in Kolkuns. Bailliepark en Losberg takke nooi die dames uit om volgende jaar die 28ste Konferensie by te woon in Potchefstroom.