Tweede grootste sonneblomoes in geskiedenis verwag

Posted in Latest News

Danelle du Plooy verlustig haar hier in ‘n land van goudgeel sonneblomme en hou haar lyf model. Verskeie faktore waaronder die buitengewone goeie reën het daartoe bygedra dat Suid-Afrika vanjaar die tweede grootste sonneblomoes in die geskiedenis verwag. AGRIPULSE – NOORDWES – AgriPulse het in ons vorige uitgawe genoem dat SA vanjaar een van sy suksesvolste en grootste oesjare in ‘n baie lang tyd verwag. Volgens prof Ferdi Meyer, besturende direkteur van BFAB – produseer Suid-Afrika oor die langtermyn gemiddeld tussen 700 000 tot 800 000 ton sonneblom op ongeveer 500 000 ha.

Soos vroeër genoem verwag Suid-Afrika vanjaar ‘n rekordoes van sowat 960 000 ton sonneblom wat op nagenoeg 680 000 ha geproduseer is.
Hierdie is baie goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse sonneblombedryf en verteenwoordig nie alleen die tweede grootste sonneblomoes in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse sonneblomproduksie nie, maar ook die grootste oor die afgelope twee dekades.
Dit moet beklemtoon word dat die internasionale sonneblombedryf hom tans in ‘n kritieke stadium bevind vanweë die konflik in die Oekraïne. Rusland en Oekraïne is beide baie groot produsente van sonneblomsaad, sonneblomolie en die sonneblomkoekmark en baie prominente uitvoerders. ‘n Mens wonder hoeveel mense weet dat die twee lande In totaal nagenoeg 56% van die wêreldhandel produseer.
Prof Meyer sê dat Suid-Afrika se sonneblomoes vanjaar met taamlike gemak in ons binnelandse behoefte sal voorsien en dat invoere van die buiteland nie in die vooruitsig is nie. Prof Meyer sê dit is nie algemeen vir Suid-Afrika om sonneblom – veral saad - vanaf die buiteland in te voer nie. Wanneer dit wel gebeur, is dit uitsluitlik sonneblomolie en sonneblomkoek wat vanaf lande soos Bulgarye en Argentinië  ingevoer word.  
Net só is Suid-Afrika nie ‘n groot rolspeler as uitvoerder van sonneblom nie. Indien dit egter by hoë uitsondering wel gebeur, geskied dit slegs in beperkte hoeveelhede na nabygeleë buurlande soos Botswana, Namibië, Mosambiek en Zambië omdat vervoerkoste relatief laag is.  
As die lesers dalk gewonder het hoe die sonneblomwaardeketting funksioneer, is die eenvoudige som soos volg: Gemiddeld word 35% sonneblomolie en ‘n verdere 42% sonneblomkoek uit ‘n enkele ton sonneblom verwerk. Sonneblomolie is uiteraard bestem vir menslike gebruik terwyl die sonneblomkoek ‘n belangrike rol as bron van proteien in die Suid-Afrikaanse veevoermark speel, aldus prof Meyer.