Nuwe rekordprys vir bobaas Bonsmarabul

Posted in Latest News

AGRI-PULSE - STELLA - Kobus Poggenpoel, en sy seuns, Phillip en Kobus, van die plaas Aliceville digby Setlagole is goed bekend in landboukringe vir telers van uitstaande gehalte Bonsmaras. Hul Poggenpoel Bonsmara-stoetery word as van die beste in die land beskou – dié dat hul jaarlikse produksieveiling kopers van regoor Suid-Afrika trek.

En dit was tydens hul 17de Produksieveiling wat einde Mei by die Stella veilingskrale gehou is, waar een van hul hulle die rekordboeke herskryf het.
Die veiling, wat ook kopers die geleentheid gegee het om aanlyn te bie, was ‘n viering van gehalte met die een kwaliteitdier na die ander wat die ring betreë het.
Toe Lot 8, BBM 16-96 egter sy verskyning maak, was die opgewondenheid byna tasbaar – dit was uit die staanspoor duidelik dat dié bul uitsonderlik is, en die  rekordprys van R2.1 miljoen deur en deur werd is.
Die gelukkige kopers wat nou kan spog dat hul die eienaars van die knewel is, is Eben Basson en sy neef Wessel Ebersohn van Baszohn Bonsmaras van Mooiriver in KwaZulu-Natal.
Die neefs het ook die naashoogste prys betaal vir Lot 16, BBM 18-25 wat vir R1.3miljoen verkoop is.
Top stoet vroulike diere is vir die eerste keer die jaar op die veiling aangebied en die besluit het die Poggenpoels nie teleurgestel nie.
Die duurste stoetkoei en kalf Lot 87, BBM13-181 behaal ‘n ongelooflike prys van
R 650 000, en is ook gekoop deur Baszohn Bonsmaras.
Die gemiddeld van die 77 bulle wat aangebied was en almal verkoop is, was
R 187 078 en die stoetkoeie en kalwers verkoop vir ‘n gemiddeld van
R 327 143.
Kommersiële vroulike diere behaal ook goeie pryse en die gemiddeld was soos volg:
Koeie en kalwers – R38 273
Dragtige koeie en kalwers (3-in-1) – R37 125
Dragtige koeie – R29 710
Dragtige verse – R29 258
Oop verse – R21 727
NoordKaap Lewendhawe Vryburg, wat die veiling aangebied het, wens Kobus Poggenpoel en sy gesin geluk met hul puik veiling. Die veilingshuis bedank almal teenwoordig op die veiling, besoekers, kopers, Johan van der Nest (afslaer) en SwiftVee.
NoordKaap Lewendehawe se admin -en veebeheerspan verdien ook ‘n pluimpie vir die organisasie van dié suksesvolle veiling.