Raakvat-voorsitter vir RPO gekies

Posted in Latest News

(deur Anita Kotzé)

AGRI-PULSE – LICHTENBURG – Mnr Nico Kilian van Schweizer-Reneke is onlangs onbestrede as die nuwe voorsitter van die Noordwes Rooivleis Produsente Organisasie (NWRPO) verkies tydens die  organisasie se Kongres.

Nico het tydens die lewering van sy voorsittersverslag gesê ten spyte van die groot uitdagings die afgelope jaar is produsente dankbaar vir ‘n goeie reënjaar en het produsente ‘n geseënde jaar beleef wat vleispryse betref. “Uitvoere is een van ons grootste prioriteite wat tans 4% beloop, en ons as bedryf sal die doelwit moet stel om 10% van ons produksie uit te voer. Dit sal ook ons binnelandse pryse stimuleer en verhoog.”
“Die grootste uitdagings waarmee die bedryf tans te kampe het is Bek-en-Klouseer, Besmetlike Misgeboorte en Onderstepoort se onvermoeë om genoeg entstowwe betyds te voorsien. Naspeurbaarheid is steeds een van die belangrikste aksies wat die RPO dryf, hoewel dit regtens gesetel is in die staat en hul verantwoordelikheid is. Ons glo dit sal spoedig uitgerol word, dis reeds op toetsgrondslag in KZN by rooigebied. Die LITS-stelsel sal nie net groot voordele inhou vir uitvoere nie, maar sal siektes soos Bek-en-Klouseer beheer asook ‘n groot impak hê op veediefstal – moontlik ‘n groot afname bewerkstellig,” het hy gesê.
Sy doelwitte as voorsitter van die NWRPO is om die Rooivleisbedryf in Noordwes verder uit te bou, rooivleis te promoveer by verbruikers en om Biosekuriteit op produsente se plase aan te moedig. Hy sê die organisasie  wil ook die vervolgingsgesag tot beter en meer doeltreffende vervolging van veediewe aanspoor.
Nico het sy skoolloopbane aan Laer- en Hoërskole Coligny voltooi waarna hy sy B Comm graad en B Comm Honns in Rekeningkunde en Belasting aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf het. Hy het in 1997 sy eie praktyk op
Schweizer-Reneke  op die been gebring wat hy steeds bedryf. Hy is ‘n doelgerigte mens met dryfkrag, is geduldig en vriendelik en lief vir sy medemens en sy Hemelse Vader. Hy boer op klein skaal met buffels. As beesboer boer hy hoofsaaklik met Simbras, hoewel hy self ook kruising doen om die kruisgeen ten volle te benut. Hy maak verse oop met Brangus bul. In sy vrye tyd geniet hy dit om sport te kyk en tyd in die natuur deur te bring. Sy gunsteling kos is ‘n sappige rumpsteak, braaivleis en luister graag na boeremusiek en Afrikaanse musiek. Hy is getroud met Isabel wat ook ‘n rekenmeester is en die Boedelberedderingsafdeling in hul praktyk behartig. Nico het twee kinders – sy seun wat in 2020 oorlede is wat die boerdery behartig het, en ‘n dogter. Sy werk as gekwalifiseerde rekenmeester by sy praktyk op Schweizer. Nico se leuse is  om elke dag te doen wat gedoen moet word - voluit te lewe. Hy sê die lesse wat hy in sy ouerhuis op die plaas buite Coligny geleer het, is ‘werk hard, wees vriendelik en hou vas aan jou geloof in jou Hemelse Vader.’