Sade is boustene vir die toekoms

Posted in Latest News

MARGARET ROBERTS KRUIESENTRUM

~Elsabé Klein

AGRI-PULSE – DE WILDT – Vroeg in die 1980’s het Margaret Roberts en haar dogter Sandy Roberts die Margaret Roberts Kruiesentrum op De Wildt net buite Brits in Noordwes begin bou.

Sedert die skielike afsterwe van Margaret Roberts, 4 Maart 2017, het dié bekroonde kruiekenner se dogter, Sandy Roberts, haar moeder se formidabele skoene met reg volgestaan en die kruiesentrum na nuwe hoogtes geneem. AgriPulse het by Sandy gaan kuier om meer oor die nuutse verwikkelings by die sentrum te gesels.
Sommer so met die intrapslag het die kleurvolle saailinge gasvry geblom, terwyl die betowerende reuk van vars laventel die lug met rustigheid gevul het.
Sandy, wat net so ‘n passievolle kruiekenner soos haar moeder is, vertel dat die Margaret Roberts Saadbank-projek groot nuus by die sentrum is.
“Ons Margaret Roberts-saadbank was die eerste van sy soort in Suid-Afrika en ons het reeds in 1999 daarmee begin. Die saadbank is in 2005 met 1 500 verskillende sade wat Suid-Afrika se inheemse voedsel- en medisinale plante insluit, geseël,” sê Sandy. “Dis met groot opgewondeheid wat ons na 2025 uitsien wanneer die saadbank vir die eerste keer in 20 jaar oopgemaak gaan word,” sê Sandy.
‘n Saadbank is soos ‘n kluis waarin *NON GMO sade vir die toekoms bewaar word. *Non Genetically Modified Organism (NON GMO) is sade waar geen genetiese manipulasie deel van die kweekproses was nie.
Dié saadbank is ook teen bykans alle omgewingsfaktore bestand.
Hoe die idee van die saadbank “ontkiem” het, is ‘n baie interessante storie. Sandy en Margaret was in 1998 op toer in die Seychelles toe hulle eendag, heel toevallig, ‘n privaat ritueel sien, wat deur die land se afgevaardigdes gelei en deur plaaslike inwoners bygewoon word.
“Ons het die mense gevra waaroor die ritueel gaan en hulle het gesê dat gedurende dié ritueel die land se president sade in ‘n tydkapsule plaas met die doel om sade vir die toekoms te bewaar,” sê Sandy. “Die Seychells se idee om ‘n volhoubare toekoms te skep waar die land se mense selfonderhoudend met voedsel is, was niks minder as briljant nie.”
Met hul terugkeer by die sentrum het die twee letterlik dag en nag gewerk om dit wat hulle in die Seychells gesien het, ‘n realiteit te maak.
Sewe jaar lank het hulle natuurlike saad bewaar, onderhou, gesaai en geoes ten einde die suiwerste saad vir volhoubaarheid in die toekoms in die saadbank te bewaar. Geen saad hier is geneties gewysig nie, alles is organies.
Na afloop van die sukses met die saadbank, het hulle besluit om hul kennis in skole met leerlinge te deel en so het die Seed Dream - Grow your dream as ‘n saad-projek begin.    
“Ons het saadbanke by skole geplaas en sade voorsien wat leerlinge in die bank kan stoor, maar die saad het ook elke leerling se lewe gesimboliseer. Dit is aanmoediging en motivering vir leerlinge om soos saad, ook optimaal as mens te ontwikkel.”
“Opvoeding is vir ons soos boustene vir die toekoms, dit is ons missie om deur opvoeding mense, veral kinders te inspireer om in die toekoms te belê deur selfonderhoudend te wees. Vir meer inligting oor saadbanke vir jou skool, skakel die kruiesentum by 082 457 1269.
“Saam kan ons in Suid-Afrika ‘n beter, gesonder en selfstandige toekoms bou,” sê Sandy.