Plaasvars jogurt, handgemaak en heilsaam

Posted in Latest News

AGRI-PULSE – BRITS – Sedert jogurt duisende jaar gelede die eerste keer “per toeval” geëet is, is dit sinoniem met goeie gesondheid.

Jogurt het die eerste keer gedurende die Neolitiese tydperk verskyn - tussen 5 000 en 10 000 jaar gelede, waarskynlik as gevolg van melk wat natuurlik in warm temperature versuur het.
Maar, voor ons verder gaan, die woord yogurt of yoghurt het net een regte manier van spelling in Afrikaans en dit is jogurt, volgens HAT Taal- en Feitegids (2013), Pearson Uitgewers.
Die woord jogurt is uit Turks ontleen waar yoğurt “gefermenteerde melk” beteken en so ook na die metode verwys waarvolgens dié suiwelproduk berei word.
AgriPulse het by Die Hoërskool Wagpos se melkery gaan inloer, waar Anina Nel, bestuurder by die skool se Plaasstal, plaasvars jogurt met die hand maak.
“Ons jogurt is die laaste skakel wat ‘n vol sirkel hier in die melkery op die plaas – van grond tot mond – voltooi,” sê Anina.
Om te begin, spog Wagpos met ‘n pragtige Fries-kudde, hulle kry topgehalte voeding op die plaas en word met liefde en deernis in die melkportaal aan die melkmasjiene gekoppel. “Koeie word daagliks gemelk en ons kry tot soveel as 20 liter melk per koei per dag,” sê Anina.
Die rou melk word dan gepasteuriseer. Dis ‘n matige hitte behandeling (40°C) van melk ‘n paar minute voor dit vinnig afgekoel word. Pasteurisasie vernietig ongewenste ensieme en siekteveroorsakende mikro-organismes soos Salmonella, Listeria, Escherichia coli O157: H7 en Staphylococcus aureus.
Vir die tradisionele resep, gebruik Anina 500 liter melk..
Melk word dan in ‘n dubbelwand jogurtpot gegooi saam met die suiker en stabiliseerders. Dit word dan stadig tot 80°C warm gemaak. Na die afkoelproses word die lewendige kulture bygevoeg. Die melk word dan in emmers getap en in die fermentasiekas gesit vir die fermentasieproses. Fermentasie neem ongeveer 4 - 6 ure. Hulle produseer weekliks 160ℓ jogurt  en 400ℓ drinkjogurt.
“Aan die einde van so ‘n proses kan ek en my span met trots terugkyk op ‘n natuurlike, tuisgemaakte produk propvol heilsame gesondheid,” sê Anina.
Voedingswaarde en interessante feite:
Jogurt is propvol probiotika wat goeie bakterieë is en kan help om siektes te voorkom en te oorkom. Jogurt bevat hoë vlakke van melksuur wat velgesondheid verbeter en werk uitstekend teen diarree.
Jogurt is ‘n uitstekende bron van verskeie vitamiene en minerale, soos vitamien B12, kalsium, fosfor en riboflavien.