Vaalharts Distrikslanbou-Unie is 70

Posted in Latest News

AGRI-PULSE - VAALHARTS: Vaalharts Distrikslandbou-Unie het op 21 Julie hul 70ste bestaanjaar gevier.

 Die sowat 110 landbouers en van hul gades, landboubesighede en voormalige en huidige bestuurslede van die landbou-Unie is deur Christelle Stoman, Bestuurder van die landbou-Unie, verwelkom.
Ds. Marias Kluge, predikant van Magogong, maar ook ‘n voormalige vise-president van Agri Noord-Kaap het die geleentheid geopen met ‘n gepaste landbou boodskap. Ivor Price, bekende radio -en TV-aanbieder was die seremoniemeester en het, afgesien van die sprekers bekendstel, ook sy ervaringe en gewaarwordinge gedeel oor landbouers regdeur Suid-Afrika wat al in sy programme verskyn het.
Die “toeka tot nou”-tema het begin met ‘n video wat vertoon is oor die ontstaan van Vaalharts in 1938 toe die eerste nedersetters daar geplaas is om aan die destydse armblankes ‘n heenkome te bied. Die video toon ook hoe daar reeds in 1934 met die bou van kanale en damme begin is.
Vandag is Vaalharts Besproeiingstelsel een van die groootste, bekendste en mees florendste besproeiingsareas in die land.
Pieter van Niekerk, voositter van die landbou-unie (2009-2013) het eer betoon aan al die voormalige bestuurslede sedert die ontstaan in 1952. Voorheen het die landbou-unie bekend gestaan as Vaalharts Boere-Unie maar is in 2004 na Vaalharts Distrikslandbou- Unie verander om meer omvattend te wees.
Daarna het ‘n maatskappy aan die beurt gekom wat spesialisser in drupbesproeiing. Elias Kampher, verkoopbestuurder Suidelike Afrika van die maatskappy, en sy kollegas Rhyk Welgemoed en Arno de Kock het die gaste ingelig oor hul produk, veral die nuutste tegnologie in drupbesproeiing. Hulle het ook ‘n uistalling gehad van hul produkte.
Alewyn Schlebusch, voorsitter vanaf 2013-2017 het weer erkenning gegee aan vorige en huidige landboubesighede wat ‘n diens aan die landbouers gelewer het. Van die bekendste landboubesighede wat bygedra het tot die ontwikkeling van die skema sluit in ‘n koöperasie, ‘n grondbonebotterfabriek, wynkelder, sitruspakhuis, nabygelë kaasfabriek, vendusiekrale, silo’s en vele ander. Vandag spog Vaalharts met nie minder as nege pekanneut verwerkingsaanlegte, grondbone-aanlegte, olyffabriek, sitrus- pakhuise, katoenverwante bedrywe, verskeie luserndepots, voerkrale en vele ander.
Gerhard Bruwer, Agri SA Jongboer van die Jaar 2021 het daarna as spesiale gasspreker aan die beurt gekom. In ‘n video kon gesien word waarom Gerhard as nasionale Jongboer aangewys is. Nie net het hy ‘n passie vir landbou nie, maar maak hy ook ‘n verskil in sy gemeenskap deur verskeie opheffingsprojekte op sy plaas te bedryf. Hy erken die uitdaging van vandag maar sê ook dat met beplanning en aanpassings landbouers die moeilike tye, veral met stygende kunsmis en dieselpryse, dit sal oorkom. As ‘n besproeiingsboer van Douglas, sonder hy ook Eskom uit as die grootste uitdagings om voortaan volhoubaar te kan boer.
Stefan Smith, voorsitter vanaf 2017-2021 het erkenning gegee aan die pionierlandbouers wat in moeilike omstandighede, Vaalharts van ‘n woestynarea tot hierdie besondere besproeiingsarea, help ontwikkel het. Van hierdie pionierlandbouers was ook teenwoordig en het tydens die geleentheid hulle eie stories vertel. Vaalharts het ook deur die jare landbouers van gehalte opgelewer. Daar was, onmder andere Alfons Visser – Landbouskrywersvereniging Boer van die Jaar wenner (2008),
Jaco Strauss Agri Noord-Kaap Jongboer van die Jaar. In 2017 ook aangewys as nasionale wenner. (2008 en 2017), Joos Mostert Besproeiing-Garsboer (2008), Ben Badenhorst Nasionale Garsboer van die Jaar (2009), Louis Claassen – Nasionale Aartappel Moerkweker van die Jaar (2019), Johan Lategan – Finalis Agri NK Jongboer van die Jaar kompetisie (2021), Dewald Dempers – Vaalharts se inskrywing vir Agri NK Jongboer 2022 kompetisie (wenner word aangewys tydens Kongres in Augustus) (2022), Vaalharts Jongboer Vereniging gestig met sowat 50 landbouers wat gaan inskakel (2022).
Pieter van der Merwe, huidige voorsitter van die landbou-unie het die geleentheid afgesluit deur te sê dat die toekoms van landbou in die hande van die nuwe generasie landbouers is. Met verwysende na die jong boere en ook die toekomstige generasie wat verteenwoordig is deur die landbou klas van die plaaslike skool.
Vaalharts Veteraanklub het goedgunstiglik hul “toeka” se trekkers en implemente kom uitstal.
 Daar was ook ‘n uitstalling van historiese dokumente – insluitende notule boeke wat dateer uit 1952 tot nou, boeke, fotoalbums en andere.

Ontstaan van Vaalharts Besproeiingskema
Die Vaalharts -besproeiingskema was geografies moontlik omdat die Vaalrivier ongeveer 450 voet hoër vloei as die Hartsrivier. Daarby is daar ‘n redelike lae nek in die bult tussen Warrenton en Vaalharts.
In 1873 is die geografiese aangeleenthede reeds opgemerk. In 1882-1882 het Cecil John Rhodes die area, met die oog op besproeiing, laat opmeet, maar dit is nie deur die destydse Kaapse Parlement goedgekeur nie. Rhodes het egter in 1989 begin om die spoorlyn tussen Kimberley en die destydse Rhodesia (wat deur die skema sou loop) te beplan.  In 1989 is die skema weereens opgemeet, maar die Tweede Vryheidsoorlog het verdere operasies gestrem. In 1904 het ene Mnr. Goden, Direkteur van Besproeiing, weereens oor die moontlikhede van die skema rapporteer. Eers is gemeen dat die stoordam net bokant Christiana gebou sou word pleks van die Vaaldam soos dit vandag is.
In 1908 rapporteer Mnr. Kanthack nadelig vir die skema, want dit sou te duur wees; kleiner skemas sou meer ekonomies wees. Gedurende die jare 1921-1925 is die gebied intensief opgemeet en die grondstruktuur ondersoek. Na die erge droogte en depressiejare in 1933, is daar besluit om weer met die projek te begin. £20 000 is bewillig om met die besproeiingskema te begin. Dit het aan duidsende mense werk verskaf, wat begin het om die hoofkanaal, verdelingskanale en gemeenskapsvore te bou. Dit het werk aan sowat 1 626 persone verskaf. In 1937 het die Departement van Lande die boerderygedeelte van die Vaalhartsskema begin ontwikkel deur die uitlê van persele en ontbossing en gelykmaak van grond. Die grond is eers in blokke van 180 morg (154 hektaar) verdeel en elke blok in ses persele van 30 morg (25 hektaar). In 1937 was die skema sover voltooi dat die Departement van Lande kon begin om nedersetters as proefhuurders te plaas.
In 1938 is die eerste 80 hoewe-bewoners hier geplaas. Vanaf 1939 tot 1941 is nog sowat 304 nedersetters hier geplaas. Daar is toe besluit dat geen verdere nedersetters grond sou kry tot na die oorlog sodat die oudstryders, veral van die Tweede Wêreld-Oorlog, ook in aanmerking mag kom vir persele.
Vanaf 1945 is daar weer nedersetters hier geplaas, in totaal 1 174 vanaf 1938 tot 1951. Hulle word in die eerste paar jaar onder proef gehou en deur die staat gehelp met gereedskap, saad, mis, kunsmis ens. totdat hy selfstandig is. Elke proefhuurder het ‘n span van ses osse of muile, trekgereedskap, tien melkkoeie, ‘n ligte trolliewa, ‘n eenskaar-omslagploeg, ‘n eg en tuingereedskap soos ‘n graaf, spitvurk, hark en gieter ontvang.
Die Departement van Lande het slegs ‘n gedeelte van elke perseel ontbos en aanvanklik kon slegs 10 morg (8.6 haektaar) bewerk word. Die res is vir weiding gebruik. Gesamentlik weikampe is ook beskikbaar gestel.
Voorligtingbeamptes het opleiding aan die boere verskaf en in 1938 is ‘n landbounavorsingstasie langs die pad na Warrenton aangelê om die departement en boere van raad te dien. Boere het aanvanklik opdrag gekry om hoofsaaklik voer vir hul diere te produseer. Dit het soms tot botsings tussen proefhuurders en voorligtingbeamptes gelei omdat die huurders eerder kontantgewasse wou plant. Na ‘n proeftydperk van minstens een jaar en maksimum van vyf jaar sou huurders die persele kon aankoop en eie kaart en transport vir sy perseel kry.
Die beginjare was moeilik. Die grond was rou, onvrugbaar en die plae veelvuldig. 7% van die nedersetters het weer die skema verlaat. Die boere het met ander probleme te kampe gehad. Die fratsstorm wat die land teen einde Augustus 1943 getref het en ook buitengewone swaar reën en baie skade in Vaalharts veroorsaak het, het die treinspoor, paaie en landerye op plekke verspoel en van die laagliggende persele was onder water. Om soortgelyke rampe te voorkom en te verhoed dat die persele versuip, is daarna met die bou van dreinerings- en stormwatervore begin. Die afloopwater uit die kanale en drieneringslote het die Hartsrivier onderkant die skema in ‘n standhoudende stroom omskep. By Spitskop is ‘n dam met ‘n grondwal gebou waaruit grond onderkant die Hartsrivier besproei kon word.
Toe die nedersetters hulle persele in drie dele opgedeel het met een deel onder lusern en twee dele onder koring en grondbone, het hulle winsgewende kontantoeste gekry.
Die oorblywende nedersetters wat vasgebyt het, is ryklik beloon. Hoewel toe nog nie ryk, is die meeste van Vaalharts se mense ‘n eerlike, hardwerkende, verantwoordelike en selfstandige gemeenskap. Die eertydse vaal setlaarshuisies is omskep in pragtige sierlike wonings, die eselwa het plek gemaak vir moderne voertuie, waaronder van die duurste Amerikaanse motors pryk. Vir baie boere het die diere as trekgoed te langsaam geword en is vervang met trekkers en boerdery is gemeganiseer.
Daar is ongeveer 1 250 persele wat saam met die Besproeiingswerke by Taung ‘n gebied van amper 40 000 hektaar beslaan. Van die ylbewoonde semi-woestyn het Vaalharts tot ‘n digbewoonde en florerende streek ontwikkel. (Foto’s: verskaf)