Die wildevyboom - oer-bondgenootskappe en seksuele selfdood

Written by Zandre Strauss. Posted in Indigenous trees

Reeks deur Naas Grové

AGRI-PULSE – NOORDWES – Verskeie lesers het in die huidige (afgelope?) wildevy-seisoen opgmerk dat daar skynbaar ‘n magdom wildevybome in ons streek voorkom. Bome wat wissel in grootte, in oënskynlike voorkoms en met onderskeidelik óf groot óf klein vruggies. Ons het Noordwes se boomkenner en president van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika -  Naas Grové - gevra om in ‘n paar artikels oor die wildevyboom uit te brei.
Gedurende die volgende paar aflewerings gaan ek van die inheemse en uitheemse wildevye van ons omgewing aan lesers bekend stel.  In hierdie uitgawe gee ek ‘n oorsig van die familie, die simbiotiese verhouding tussen die vy en wespe, koëvolusionêre oorlewing en seksuele selfdood.
Die MORACEAE, die Vyfamilie bestaan uit 37 genera en ongeveer 1 100 spesies wat dwarsoor die wêreld voorkom.  Daar is ongeveer 750 spesies in die Ficus-genus, waarvan ~110 in Afrika voorkom.   Minstens 500 spesies kom in Australië voor. Ficus is die Klassieke Latynse naam vir vyeboom. Dit is ‘n groot familie, baie ingewikkeld en taksonomies uiters moeilik om van mekaar te onderskei.  Moerbeie verskil van ander lede in die familie omdat dit dig, saamgestelde vrugte dra.
Die familie MORACEAE word van ander plantfamilies onderskei deur ‘n kombinasie van die volgende kenmerke: Alle dele van die plant skei ‘n nie-toksiese wit of waterige melksap af en die nuwe groei word beskerm deur steunblare aan die groeipunt, (‘n stipule) wat vroeg afval.  Die blare is enkelvoudig en nooit saamgestel nie en die bas is gewoonlik glad en bleek. Die vrugte van al die inheemse vye, asook die gekultiveerde Ficus carica, is eetbaar.  Die blomme van die inheemse vye is enkelslagtig en die vroulike en manlike blomme kom gesamentlik in dieselfde vy voor.
Fossielrekords dui daarop dat die genus Ficus ten minste 90 mijoen jaar oud is en dat ‘n groep wespe, voorvaders van die familie AGOANIDE, nog ouer is. Deur die eeue van koëvolusionêre oorlewing is die twee lewensvorme so in mekaar verweef dat die een nie sonder die ander kan voortbestaan nie: ‘n Gedwonge simbiotiese vennootskap waar die een afhanklik is van die ander en voorwaar een van die ware wonders van die natuur!  Wat hierdie verhouding nog meer ingewikkeld maak, is dat elk van die 29 inheemse Ficus spesies een of meer spesifieke wesp(e) het, wat verantwoordelik is vir die bestuiwing van daardie vye-spesie se blomme.  Sodoende word die voortbestaan van die wesp asook dié van die van die vye-spesie verseker.  Dit is ‘n ingewikkelde verhaal, wat gedrags- en morfologiese aanpassings deur beide die wesp en die vyeboom  oor die eeue heen geverg het.
Die blomme van al die Ficus spesies, anders as by ander plante, se meeldrade en stempel is nie ontbloot vir bestuiwing nie, maar is ingebed binne-in die vrug. Hierdie omgekeerde blom staan bekend as die sikoon, (afgelei van die Grieks ‘syn’ wat ‘met’ beteken en ‘konos’ wat ‘kegel’ beteken) of, gewoonweg ‘vy’ in die volksmond.  Die vy is eintlik ‘n hol blombodem met die blommetjies wat inwendig gedra word. Dit maak vye uniek onder bome. Afhangende van die geografie, grootte en spesifieke vye-spesie kan so ‘n boom tot 100 000 vye, twee maal per jaar dra en elke vy kan tot 1 000 klein saadjies binne-in die vy huisves.  Aan die onderkant van die vy is daar ‘n baie klein opening (ositool) wat net groot genoeg is om toegang tot die ‘spesie-eie’ wesp te verleen.  Sodra die ontwikkeling van die sikoon gereed is vir bestuiwing, word vlugtige chemikalieë, soortgelyk aan die feromone wat insekte afskei om met mekaar te kommunikeer, afgeskei. Die wyfie, wat chemies aangetrek word die reuk, kruip deur die opening aan die onderkant van die vy. In die proses verloor sy haar vlerkies.  In die nuwe ingekrompte woonplek lê sy haar eiers binne-in die vy.  Hier kom daar lang- en kortsteel vroulike blomme, asook manlike langsteel blomme voor.  Die vroulike blomme bereik wasdom aan die begin van die vy-siklus, terwyl die manlike blomme aan die einde van die siklus volwassenheid bereik. Normale saad ontwikkel in die langsteel vroulike blomme en larwes (eiers deur parasitiese wesp gelê) ontwikkel in die vroulike kortsteelblomme.  Dit staan bekend as galle (kapsules), wat voedsel vir die jong wesp verskaf sodra hulle uitbroei.
Terwyl die vroulike wesp in die vrug rondbeweeg, bestuif sy die blomme met stuifmeel wat sy op haar lyf en in stuifmeelsakkies onder haar pote versamel het by ander vye.  Nadat sy haar eiers gelê het, vrek die wyfie binne-in die vrug.  Klein galle (kapsules) word dan rondom die larwes gevorm.  Die jong wesp neem ongeveer vier maande om volwasse te word.  Die blinde, vlerklose mannetjie wesp word eerste gebore en hy maak ‘n gat deur die galle wat die pasgebore wyfie wesp omring, en bevrug haar.  Die mannetjie wesp vergroot daarna die openinge in die wand van die vy sodat die wyfies daardeur kan ontsnap.  
Tydens hul uittog deur die wand van die vrug, versamel stuifmeel op die vlerke en in die stuifmeelsakkies van die wyfie wesp.  Die wyfiewesp, gelaai met stuifmeel, vlieg dan verder na die volgende vyeboom, weer-eens geprikkel deur die chemiese afskeiding van ‘n ander vye-boom. So begin die siklus weer van voor.  Omdat die manlike wesp nie vlerke het nie, vrek dit binne-in die vrug. Die koolstofdioksied wat tydens hierdie proses binne-in die vy versamel, verhinder dat die vy ryp word.  Vrugte-vretende diere en voëls eet nie die groen vrugte nie, dus word die lewensiklus van die wesp, asook die voortbestaan van die boom in hierdie oer mutualistiese bondgenootskap, verseker.