Pangebraaide beeslewer met gesmoorde uie

Written by Zandre Strauss. Posted in Recipe

Johan Hayes, hoofchef en restaurant bestuurder by Silver Spoon Bistro by Tshahitsi Lodge op Upington, moet gereeld vinnige geregte kan maak as gaste by die lodge opdaag en die honger knaag.

Een van die geregte wat vinnig voorberei kan word, is sy pangebraaide beeslewer. Johan sê hy sorg dat hy altyd vars lewer aankoop vir oggende-etes of ‘n ligte middag- of aand-ete.

Silver Spoon Bistro is veral bekend vir hul gourmet ontbyte. ‘n Groot verskeidenheid  geregte word elke oggend bedien en kliënte kan dan kies wat hul vir ontbyt  wil eet. Johan stel hierdie lewer-gereg voor vir ‘n ligte middag-ete:

 

 

 

 

Só maak jy...

Bestanddele:
500 g Beeslewer
2 groot uie
2 eetl botter
2 koppies melk
1 koppie koekmeel
Gemaalde growwe sout
Gemaalde swart peper
Robertson Steak en Chops speserye (opsioneel)
Sonneblomolie vir panbraai

Maak so:
Maak lewer skoon en verwyder die vliesie. Sny in dun mini fillette.
Week lewer in melk (ten minste ‘n uur of oornag)
Skil, halveer uie en sny in halwe ringe.
Smelt botter in pan en soteer uie tot gaar en goudbruin
Verwyder lewer uit melk.  Sprinkel speserye oor aan beide kante (na smaak).
Rol lewer in meel tot heeltemal bedek.
Verhit olie in pan (sowat 1 cm diep). Braai lewer vinnig aan beide kante.
(Onthou om lewer nie te lank te braai nie).
Verwyder uit pan en voeg gesmoorde uie by.
Bedien lewer saam met groente van jou keuse of aartappels of ‘’n lekker groen slaai.
Indien verkies bedien ‘n soet/suur sous saam met jou lewer.

Nota: Beeslewer kan vervang word met skaap-, lam- of wildslewer, indien verkies.