Maklike uithaler-hoenderpastei (8 mense)

Written by Zandre Strauss. Posted in Recipe

Agri-Pulse - Rustenburg – In hierdie uitgawe van Agri-Pulse spog ons kookspannetjie met ‘n uithalergereg wat eintlik baie goed bekend is onder die meeste Suid-Afrikaners.
Maar omdat ons weet dat ons boerderygemeenskap soms daarvan hou om op behoorlike wyse uit te hang, deel ons met julle die resep vir ‘n spoggerige hoenderpastei soos Elmarie Bos van Terra Casa-gastehuis in Rustenburg dit vir ons voorberei. 

In Rustenburg is Elmarie bekend as ‘n voortrefklike sjef en sy het ‘n slag om ‘n eenvoudige dis soos sommer ‘n hamburger op te dis dat dit selfs vir ‘n koning goed genoeg is. Elmarie noem haar gereg ‘n “maklike uithaler-hoenderpastei” en sy doen dit soos volg: (Wees gewaarsku – dit is nie sommer “enige” hoenderpastei nie). 

Bestanddele:
•    2 gaar hoenders, ontbeen, ontvel en in growwe stukke gebreek.
•    2 groot uie, gekap.
•    200g spek.
•    1 pakkie Portabellini sampioene.
•    300g babaspinasie.     
•    100g Cremezola (bloukaas), gekrummel.
•    625 ml vars room.
•    ‘n Handvol geroosterde pekanneute.
•    Sout en swartpeper na smaak.

Metode:
• Braai die uie tot sag en deurskynend.
• Voeg spek by en braai saam.
• Braai intussen die sampioene vinnig op hoë hitte en meng met uiemengsel.
• Voeg baba-spinasieblare by en braai ‘n paar minute tot “verwelk” en sag.
• Roer versigtig die ontbeende hoender, room en Cremezola by.
• Wenk: Bedien in ‘n groot opdienbak, opgestapel met ekstra vars babaspinasieblare en geroosterde pekanneute.
• Onthou ook – Basmati-rys en ‘n lekker mengelslaai werk goed saam.

Vir jou “grênd” gaste:
• Druk 8 sirkels blaardeeg uit (10 cm deursnee).
• Bak by 180 C vir 30 minute, of tot goudbruin en gepof.
• Sny elke sirkel in 2 helftes en plaas onderste helftes op bord.
• Skep ‘n porsie hoender bo-op en dan die boonste helfte van die blaardeegsirkel los bo-op.
• Ekstra babaworteltjies en heel groenboontjies kan kleur verleen.
• Lekker eet en onthou gerus hierdie resep as jou spoggerige tante op die buurplaas weer kom kuier!

Kyk gerus na die skakel -http://bit.ly/hoenderpastei- om te sien hoe dit gedoen word.