Ons maak Turksvy-fynkonfyt – ‘n prikkelrige affêre..

Written by Zandre Strauss. Posted in Recipe

In die artikel oor Turksvye hiernaas vertel ons vir jou allerlei interessante dinge oor die Wes-Transvaal se “Doringrosie” wat vir dekades lank al ‘n gewilde lekkerny is – amper net so tradisioneel soos waatlemoen of spanspek maar met baie meer “onderhoud” voor die tyd.
Ons het al gewonder of baie mense turksvykonfyt maak – dit is nie sommer ‘n konfyt wat jy op enigmand se spensrakke sal aantref nie. Een van die redes is die moeilike skoonmaakproses van ‘n groot klomp turksvye en die ander is die taamlike swak “opbrengs” – jy het baie turksvye nodig om sommer net ‘n paar klein botteltjies vol konfyt te maak, maar boeta – is dit wonderlik-lekker! Ons weet dat sommige mense nie vreeslik dol sal wees oor die pitjies in die konfyt is nie, maar om dit te verwyder sou jou met selfs nog ‘n armer opbrengs gelaat het. Ons sal jok om nie te sê dat hierdie turksvykonfyt seker een van die lekkerste konfyt is wat ons in ‘n lang tyd gekook het nie – dit herinner ‘n mens nogal aan die geliefde makataan…

Turksvy-fynkonfyt
Skil 1 kg ryp turksvye dun af en sny dit in klein stukkies op. Voeg 625 ml water by, verhit dit tot kookpunt en kook dit ‘n kwartier lank met die deksel op. Haal die kastrol van die stoof af. Voeg 375 g wit suiker, die sap van ‘n halwe suurlemoen, 1 knoets gekneusde, gedroogde gemmerwortel en ‘n knippie sout by die warm turksvymoes.Verhit die mengsel stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Kook dit oor matige hitte totdat die konfyt helder en dik is.Verwyder die gemmer en gooi dit weg. Skuim die konfyt af, indien nodig. Bottel dit warm en verseël dit wanneer afgekoel.

Heerlike turksvye  sonder die eina

AGRIPULSE - NOORDWES - Kan jy jou ‘n plaas in die ou Wes-Transvaal sonder ‘n hele klomp turksvybosse voorstel? Turksvye is so eie aan ons wêreld in Noordwes en gedeeltes van die Suid-Afrikaanse platteland soos ‘n mielieland of die bloekomboom en is vir eeue al aan die mens bekend as ‘n gewilde en veeldoelige lekkerny.
Die turksvy is ook ‘n belangrike voedingsbron vir diere in swaarkrytye...
Die turksvy (Opuntia tuna) is ‘n plant in die kaktusfamilie, Cactaceae. Turksvye is van Suid-Amerika na Suid-Afrika gebring, en word oor die algemeen as ‘n ernstige pes en bedreiging beskou. Turksvye het oorspronklik slegs in die Westelike Halfrond, oor die grootste gedeeltes van Noord- en Suid-Amerika, voorgekom.
In die laat 1800’s is turksvye na Australië gebring, waar hulle groot ekologiese skade in die oostelike state aangerig het. Hulle word ook in die Mediterreense streke van Noord-Afrika aangetref, veral in Tunisië, die mees noordelikste land van Afrika, sowel as die suidelike dele van Europa, veral op die eiland van Malta.
Daar is mense wat sommer baie lief is vir die turksvy as ‘n lekkerny maar dan is daar mense wat die plant met mag en mening wil uitroei. Dit is beslis ‘n ongewaardeerde gewas. Die heel eerste turksvye is meer as 300 jaar gelede die land ingebring. Die doringlose sogenaamde “Burbank” tipe is egter eers vanaf 1914 ingevoer. Turksvye met lang dorings op die blaaie (“blare”) is lankal reeds as ‘n onkruid verklaar en slegs die doringlose tipes mag deesdae geplant word.
Nuwe inligting toon dat daar sommer baie aanwendingsmoontlikhede vir die turksvy is. In Mexiko word die jong blaaie se dorings afgeskraap en as groente in slaaie gebruik wat as “Nopalitos” bekend stan. Die vrugte word as vars vrug bemark, maar kan ook verwerk word tot heerlike konfyt en stroop. Turksvye kan egter ook ingelê, versuiker of gedroog word. In die Oos-Kaap word selfs ‘n tipe “bier” onder die plaaslike bevolking van die vrug gebrou.
Die turksvy dra is van vroeg in Desember waneer dit taamlik warm is tot vroeg in Februarie in die meeste streke van Suid-Afrika. In Noordwes is die vrug tradisioneel in Januarie “ryp” en kan dit vir bykans ‘n maand lank geoes word.
Baie mense sal jou vertel dat die turksvy nie ‘n “katjie is wat jy sonder handskoene moet aanpak nie”. ‘n Mens moet taamlik versigtig wees wanneer jy dit pluk en selfs nog meer versigtig wanneer jy die ryp vrugte skil, anders gaan jy dit vir etlike dae lank berou.  
Skil jou turksvy só:
Die turksvy is nie jou “maat” as dit by die voorbereiding of skil van die vrug kom nie. Daar is min dinge so onaangenaam soos ‘n hand of vingers vol turksvydorings en daar is maar een beproefde metode om die vrug te skil sonder om vir dae lank daarna met ‘n haartangetjie in jou sak rond te loop. Maak só om jou turksvye te skil.
Baie mense verkies koerant of tydskrifpapier wat soos ‘n “boek” geblaai word soos jy met die skillery vorder. Ander mense glo weer aan ‘n vuur en om die turksvye dan een vir een met ‘n braaivurk of knyptang in die vlamme te hou om die dorings af te brand. Beide is egter ‘n tydsame proses.
Die heel maklikste en dalk veiligste metode, is soos volg:
Spoel die turksvye (nadat jy chirurgiese handskoene aangetrek het - by enige apteek beskikbaar) sommer ‘n paar keer met koue water af. Jy kan dit selfs vir ‘n paar uur of langer in ‘n bak met water los. Werk op ‘n broodbord of ‘n houtplank wat daarna goed gewas word - steeds met die handskoene aan.
Druk ‘n vurk dwars lekker diep in die turksvy met die punte van die vrug aan weerskante. Sny aan beide kante ongeveer ‘n driekwart tot 1 cm van die kante af. Moenie die skil tot heel onder deursny nie en laat die afgesnyde kante steeds aan die skil bly. Maak nou ‘n snit van ongeveer 6mm diep van kant tot kant oor die turksvye, en met jou vurk steeds in die vrug en met die mes in jou regterhand (of andersom as jy linkshandig is), begin jy die skil stadig en versigtig van die vrug “afrol”. Wees versigtig aan die einde, sodat jy die vruggedeelte heeltemal van die skil af kan oplig sonder om die vruggedeelte met die brood- of houtplank in kontak te bring. Só maak jy seker dat die vrug nie vol dorings word nie. Na elke geskilde vrug steek jy die punt van die mes in die skil en gooi dit direk in ‘n swart sak of vullisdrommetjie wat ook na die tyd goed met water uitgespoel moet word as jy dit binneshuis gebruik.
As jy nie jou turksvye vars wil eet nie, het jy sommer ‘n wye keuse tussen ‘n verskeidenheid turksvykonfyte. Kies een van onderstaande resepte en kook vir jou ‘n paar flessies konfyt wat beslis nie in enigiemand se kombuis op die rakke is nie.

Heel Turksvykonfyt
Skil 1kg ongeveer 10-12 klein -mediumgroot turksvye - dit is omtrent hoeveel jy nodig het vir die standaard-heuningflessie. Prik met langtandvurk dwarsdeur turksvy, kook in 1 liter water tot deurskynend en dreineer. Gebruik water vir stroop, voeg 4 kop suiker by water plus halwe suurlemoen se sap en roer tot al die suiker opgelos is, laat kook die stroop en skep die turksvye een-een in kokende stroop, stel stoofplaat af tot nr 4-5 en kook konfyt tot stroop soos lawa borrel en vrugte heeltemal deurskynend is. Ongeveer 4 ure se kook, bottel warm in warm bottels en verseël dadelik. Die vrugte behoort heel te bly.
Turksvystroop met suiker
Skil ryp turksvye af en sny die vleis in stukkies op. Kook dit stadig sonder water totdat die mengsel sag is. Vryf die pulp deur ‘n sif en meet die hoeveelheid puree af. Voeg by elke 250 ml puree 50 g tot 100 g witsuiker na gelang van soetheid van die puree asook 15 ml suurlemoensap. Verhit dit stadig tot koopunt en roer dit aan die begin tot die suiker opgelos is. Kook die stroop oor matige hitte tot dik en roer gereeld.
Bottel die stroop warm en verseël dadelik.
Gebruik die stroop in die plek van suiker oor melkkos of mieliepap. Versoet bruismelk daarmee, giet dit oor warm wafels of roomys. Stowe groente soos patats, wortels en pampoen en vrugte in die stroop.

Turksvylikeur
Meng 350 ml stroop en 150 ml rum, bottel die mengsel en kurk dit toe. Laat dit 6 maande verouder en bedien as likeur.

Turksvykonfyt
Kies turksvye wat ryp is, vryf hulle goed af met ‘n growwe doek om die dorings te verwyder en spoel hulle in water af. Skil net die groen skilletjie af en weeg die vrugte. Prik die vrugte met n stopnaald, laat dit oornag week in ‘n oplossing van koeksoda (45 ml koeksoda op 5 liter water). Was die vrugte die volgende dag goed af met water en kook dit in skoon water tot sag. Gebruik 375 g suiker en 570 ml water vir elke 500 g vrugte om die stroop te maak. Voeg 15 ml suurlemoensap by vir elke 500 g vrugte. Laat die stroop kook en sit die turksvye een vir een in die stroop om te verhoed dat die stroop ophou kook. Sit die deksel op en laat dit vir 15 minute kook. Lig die turksvye die volgende dag uit die stroop. Syg die stroop deur ‘n klam kaasdoek en laat dit weer kook. Voeg die turksvye by en kook totdat die vrugte helder en deurskynend is. Bottel die konfyt dadelik.