AGRI-PULSE – ROODEPOORT - Clover SA waarsku dat die nie-gestandaardiseerde bek- en klouseer (BKS) uitwissingsmaatreëls wat deur die staat op suiwelprodukte toegepas word, die land se suiwelbedryf ernstig bedreig.
Ten spyte daarvan dat suiwelprodukte aan internasionaal erkende veiligheids-standaarde voldoen en dit soms selfs oortref, word uitvoerpermitte en veearts-attestate nie konsekwent tussen provinsies toegepas nie. Intussen steun Suid-Afrika op invoerlande wat eers plaaslike goedkeuring vereis, wat ’n regulerings-dooiepunt skep.
Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover, sê: “BKS-uitwissingsmaatreëls word verkeerdelik met suiwelverwerkingstandaarde verwar. Dit voorkom die uitvoer van produkte wat wetenskaplik veilig is vir menslike verbruik.”
Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) verskaf duidelike en wetenskapgebaseerde standaarde vir BKS-beheer. Hierdie standaarde bevestig dat UHT-behandelde suiwelprodukte veilig is vir handel en nie BKS-verwante voorwaardes of sertifisering behoort te vereis nie. Nie-UHT-produkte word ook as veilig beskou wanneer dit aan toepaslike hittebehandeling onderwerp word, met beperkte sertifisering wat fokus op die melk se status tydens insameling en behoorlike skeiding ná verwerking.
“Geënte melk word verkeerdelik as besmette melk behandel en geklassifiseer, ondanks die feit dat inenting ’n erkende siektebeheerhulpmiddel is en nie ’n aanduiding van infeksie nie. Dit brei beperkings dramaties uit sonder enige wetenskaplike regverdiging. Die feit is dat die betrokke produkte veilig is vir menslike verbruik. Die staat het dit eenvoudig verkeerd, het nie sy huiswerk gedoen nie, of hanteer die situasie onbevoeg,” sê Vorster.
Vorster waarsku verder: “Produsente en verwerkers dra onvolhoubare bykomende koste weens gedwonge skeiding van fasiliteite, onvoeldoende vervoermaatreëls en produkverliese. Indien dit nie opgelos word nie, sal die voortgesette toepassing van hierdie maatreëls uitvoere onlewensvatbaar maak, wat sal lei tot verminderde melkinsameling deur produsente, werksverliese regdeur die waardeketting, verlies aan uitvoerinkomste en verhoogde risiko’s vir nasionale voedselsekerheid.”
Saam met die suiwelbedryf doen Clover ’n dringende beroep op die owerhede om ’n duidelike nasionale minimumstandaard aan te neem wat in lyn is met WOAH-riglyne om behoorlik tussen besmette, geënte en BKS-vrye melk te onderskei, en om onnodige beperkings op UHT-produkte te verwyder. “Suid-Afrika loop die risiko om onomkeerbare ekonomiese skade aan sy suiwelbedryf te veroorsaak,” sluit Vorster af.









