Naas Grové
AGRI-PULSE – NOORD-WES - Bykans oral waar riviere en die see ontmoet word fassineerende ekosisteme aangetref.
Die unieke mengsel van varswater en soutwater veroorsaak brak riviermondings en hierdie strandmeerbiome wemel van lewe en diverse habitats. Ongeveer 290 riviermonding ekosisteme word langs Suid-Afrika se kuslyn aangetref wat ryk is aan biodiversiteit wat ’n belanngrike rol speel in die ondersteuning van marieme en terrestiële lewe. Vir plante om in hierdie omgewing te kan oorleef het hulle verskeie aanpassings gemaak, onder andere om ’n groter verdraagsaamheid teen hoë soutwater-vlakke in dikwels versuipte suurstofarm grond te ontwikkel.
Die term wortelbome verwys in die algemeen na ’n groep soutverdraagsame bome en struike wat floreer in kusgety-gebiede, waar varswater en seewater meng. Die wortelboom-omgewing is hoogs dinamies en broos, en die spesies het verskeie ekologiese en morfologiese aanpassingstrategieë vir oorlewing ontwikkel, wat oor miljoene jare ontwikkel het om voor te stel wat ons vandag as wortelboom-habitatte ken. Sommige het unieke morfologiese kenmerke vir oorlewing ontwikkel wat hulle in staat stel om deur mededingende uitsluiting, ander spesies plante te domineer wat nie die uiterste toestande saam met wortelbome kan oorleef nie.
Daar is min ander ekosisteme wat so marginaal in die ruimte gedefinieer is soos die wortlebome. Hulle word beskou as kusbio-skilde, bestaande uit tussen getyplante, meestal bome, en speel ‘n kritieke rol in die beskerming en stabilisering van kuslyne en die verryking van kuswaters. Daarom is hulle een van die mees bedreigde ekosisteme wêreldwyd. Hulle verminder die impak van erosie, storm-, vloed- en golfskade op die omgewing en speel dus ‘n groot rol in die veiligheid van lewensbestaan langs die riviermondings en strandmere.
Een van die voorvereistes vir lewe op aarde is beskikbare suurstof en hierdie plante het aanpassings gemaak om te kan oorleef - wat insluit die voorkoms van bogrondse wortels wat bekend staan as asemhalingswortels, of snorkelwortels, of pneumatofore. Tydens laagwater kan die talle porieë en lenstiselle (gasuitskeidingsholtes) op die wortels, atmosferiese suurstof en ander gasse uitruil wat ook suurstof na die ondergrondse weefsels en blare van die boom vervoer. In hoogwater en vloedgetye het dit die vermoë ontwikkel om voedingstowwe direk uit die water op te neem. Hierdie wortels bied ook meganiese ondersteuning vir die boom se stam en blaredak, wat in sagte sedimente groei.
Soutuitskeidingskliere is nog ’n aanpassing, wat help om die soutgehalte te reguleer. Op ‘n manier is hierdie wortelbome soos soogdiere. Om die vyandige soutomgewing en modderige sedimentsamestelling van die grond te oorkom, het hulle ‘n unieke manier van voortplanting ontwikkel deur sade te produseer wat voortydig kan ontkiem terwyl dit nog binne in die vrug aan die ouerplant vasgeheg is. Hierdie verskynsel is afgelei van die Latyn vīviparus wat lewende geboorte- / lewendbarend beteken. Normaalweg sal die meeste blomplante dormante rustende sade produseer. Die vrugte van die swartwortelboom is ‘n enkelsaadbessie wat in saailinge ontwikkel terwyl dit nog aan die boom is. Die ouerboom verskaf water en voedingstowwe aan die vrugte en die ontwikkelende hipokotiel (wortel) fotosinteer terwyl dit nog aan die moederboom geheg is. Die hipokotiel wat uiteindelik vrygestel word, is eintlik ‘n ontkiemde saailing en nie ‘n saad nie. Wanneer die saad na benede val en nie in die modder onder die boom vassteek wanneer dit afval nie, sal hulle oorleef vir ongeveer een jaar deur in die strome van die see rond te dryf, totdat hulle uiteindelik geskikte grond vind om in wortel te skiet.
Langs die ooskus van Suid-Afrika, waar die warm Indiese Oseaan die land ontmoet, tussen die Nahoon-riviermonding naby Oos-Londen tot by Kosibbai in die noorde, kan 37 strandmere en riviermondings waargeneem word. Hierdie strandmere bied geskikte toestande vir die wortelbome om in te groei. Hier kom ses verskillende wortelboomspesies voor, naamlik Avicennia marina (witseebasboom) [ACANTHACEAE-familie], Bruguiera gymnorhiza (swartwortelboom), Ceriops tagal (Indiese wortelboom ), Rhizophora mucronata (rooiwortelboom) [RHIZOPHORACEAE-familie], Lumnitzera racemosa var. racemosa (tongawortelboom) [COMBRETACEAE-familie], en Xylocarpus granatum (wortelboommahonie) [MELIACEAE-familie]. Die swartwortelboom is ‘n klein tot mediumgrootte immergroen boom wat langs die getyriviermondings en strandmere van die ooskus in Suid-Afrika voorkom. Die genus Bruguiera is vernoem na Jean Guillaume Bruguiers, ‘n Franse botaniese kunstenaar en plantversamelaar wat in 1792 op ‘n ekspedisie na Madagaskar, Réunion, Mauritius gegaan het en ook plante in die Kaap versamel het. Die spesienaam gymnorhizus / -a / -um (Grieks) beteken naakte wortel en dit verwys na die blootgestelde oppervlakwortels van die spesie.
Wortelbome in die RHIZOPHORACEAE-familie is een van die min ander groepe plante wat interpetiolêre stipules het (klein driehoekige, blaaragtige uitgroeisels op die stam en dus reghoekig met die teenoorgestelde blaarstingels), dit het dus dieselfde kenmerkende eienskap van die RUBIACEAE-familie (Gardenia). Die blare van die swartwortelboom is aangepas om sout te absorbeer en uit te skei deur kort, digte hare en gespesialiseerde kliere wat aan die onderkant van die blare voorkom.
Dikwels is klein swart kolletjies sigbaar op die onderoppervlak van die blare, waarskynlik as gevolg van ‘n swambesmetting. Die oormatige sout is in die ou blare gekonsentreer en die blare vrek as gevolg van die hoë soutvlakke in die selle. Dit vertoon geel voordat dit van uitdroging vrek en afval. Die blare wat afval is ‘n belangrike element in die vestiging van ‘n unieke ekologiese stelsel en is deel van die voedselketting wat ‘n verskeidenheid ander lewende organismes voed, wat in die modder tussen die wortels van die boom leef. Die swartwortelboom is ‘n beskermde boom ingevolge die Suid-Afrikaanse Nasionale Boswet, van 1998.