AGRI-PULSE – BOKFONTEIN – Sy is ‘n dogter, ‘n suster, ‘n vrou en ‘n ma, maar bowenal is sy ‘n uitstekende boer en finalis in die NW Agri Jongboer van die Jaar kompetisie.
Sy is Joy van Deventer (36) en die eienaar van Berg en Dal Blommeplaas op Bokfontein, suid van Brits wat met top gehalte krisante (Chrysanthemums) boer. In die agt tonnels op die 3½ hektaar grond, groei en oes Joy en haar span jaarliks meer as vyf miljoen krisantstele van 25 verskillende variëteite. Ongeveer 80% word regoor die land gelewer en 20% uitgevoer.
Joy is gebore in Nederland en op tweejarige ouderdom het haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer en met onder andere krisante hier in Noordwes begin boer.
Sy is al vir 10 jaar met krisantboerdery betrokke en het vier jaar gelede haar eie plaas (Berg en Dal) aan die voet van die Magaliesberg op Bokfontein gekoop. In dié vier jaar het sy haar passie vir die blomboerdery met groot sukses uitgebrei en vandag is sy een van die top-kristantboere in Noordwes.
“My man, André en my drie seuntjies is my grootste ondersteuners,” sê Joy, wat vrou-alleen saam met haar toegegewyde span personeel boer.
“Die boerdery is arbeidsintensief, elke steggie word met die hand geplant en na ongeveer ‘n week word die steggie in die grond in die tonnels uitgeplant. Na nog 11 weke word elke steel met die hand geoes en in bondels verpak,” vertel Joy. “Omdat ons die temperatuur binne die tonnels kan manipuleer is ons bevoorreg om 365 dae van die jaar te plant en te oes.”
Met haar passie, deursettingsvermoë en haar visie vir volhoubare groei, trap sy reeds diep spore in die blomindustrie. Daar word mos gesê, ‘n boer maak ‘n plan, maar in Joy se geval is dit duidelik dat dié boervrou beslis meer as een plan het!
Die beoordelaars van NW Agri het reeds by Joy en haar boerdery besoek afgelê en hulle was dit eens dat sy met die gebruik van moderne tegnologie, innovasie en haar internasionale kennis in die kweek van kristante, beslis ‘n boer is om mee rekening te hou.
Die aankondiging van 2026 se NW Agri se Jong Boer van die Jaar vind tydens die gala-dinee op 3 September, by die ATKV Buffelspoort-oord plaas.
AGRI-PULSE – BOKFONTEIN – Sy is ‘n dogter, ‘n suster, ‘n vrou en ‘n ma, maar bowenal is sy ‘n uitstekende boer en finalis in die NW Agri Jongboer van die Jaar kompetisie.







