Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sidebar

08
Sun, Dec

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Naas Grové
AGRI-PULSE – NOORDWES - Die antidepressant metkathinoon (ook bekend in gemorstaal onder verslaafdes as ‘cat’, ‘speed’, ‘bathtub speed’, ‘Cadillac express’, ‘wonder star’, ‘wild cat’, ‘the C’, of ‘gaggers) is ‘n gewilde ontspanningsdwelm wat in baie dele van die wêreld misbruik word en dit moet nie met boesmantee verwar word nie.

Metkathinoon is die eerste keer in 1928 in Duitsland vervaardig en in die Sowjet-Unie as ‘n anti-depressant gebruik gedurende die 1930’s en 1940’s. In die middel-1950’s het ‘n Amerikaanse farmaseutiese maatskappy, Parke Davis, eksperimente met die dwelm gedoen om vas te stel of daar enige mediese nut vir dit was. Omdat die resultate negatief was het die maatskappy sy navorsing gestaak. Dit was egter in 1989 dat metkathinoon as ‘n ontspanningsdwelm sy debuut in die Verenigde State van Amerika gemaak het en teen 1992 was metkathinoon oral in die wêreld bekend.
Die strategiese ligging is grootliks een van die redes dat Suid-Afrika vandag bekend staan as een van die dwelmhoofstede van die wêreld. Cat word algemeen as ‘n ontspanningsdwelm onder mense in Suid-Afrika gebruik, as ‘n goedkoper alternatief vir kokaïen. Die dwelm word hoofsaaklik vervaardig in tuisgemaakte laboratoriums en amateur chemici ‘meng en kook’ alledaagse middels in die vervaardiging van ‘n baie gevaarlike en uiters skadelike sintetiese, giftige dwelm. Die dwelm is veral gewild by ‘rave partytjies’ wat gebruikers in staat stel om deurnag te dans. Dit word ook gebruik as ‘n seksopkikker wat saam met sigarette of dagga gerook word of soms word dit binneaars ingespuit. Die mees algemene praktyk is egter om dit soos kokaïen te snuif en die gepaardgaande verhoogde adrenalienvlakke stimuleer aggressievlakke en die risiko van geestesversteurings by die gebruiker. 
Catha edulis (boesmantee) is ‘n klein, aantreklike bladwisselende boom wat aangetref word in Ethiopië, al langs die oostekant van Afrika tot in die oostelike dele van Suid-Afrika. Die genusnaam is ‘n ver-Latynisering van die Jemeense woord ‘qat’, ‘n algemene naam vir dié plant in die streek. Die spesienaam edulis, is afgelei van die Latyn, wat eetbaar beteken. Die Afrikaanse naam boesmantee is afgelei van ‘n aftreksel van gekookte blare van die plant wat as stimulant-tee deur die San gedrink is. Die boesmantee-plant se blare bevat ‘n mono-alkaloïed bekend as katinoon, wat ‘n natuurlike efedrien-agtige stimulant is, wat opwinding veroorsaak, lei tot euforie en die eetlus demp.  
Hierdie ligte en verslawende gewoonte-vormende stimulant met ‘n amfetamienagtige- werking is waarskynlik die belangrikste bydraer tot die stimulerende effek van Catha edulis, en word in die liggaam vrygestel wanneer die jong blare van hierdie plant voorberei word in ‘n tee of bloot gekou word. 
Indien water gedrink word terwyl die blare gekou word, sal dit help om die alkaloïede vinniger in die maag en dus in die bloedstroom te laat beland. Efedrien in sy natuurlike vorm, is bekend as má huáng in tradisionele Chinese medisyne wat sedert die Han-dinastie (206 VHT - 220 HT) gedokumenteer was en gebruik is as ‘n middel vir die behandeling van asma, verkoue- en griepsimptome, kouekoors en hoofpyn. Die kou van boesmanteeblare wat lei tot euforiese effekte is sosiaal aanvaarbaar in Oos-Afrika en Arabië. 
Boesmanteeblare word al vir baie eeue deur die mense in Ethiopië gekou om vir ‘n ongewone staat van bewustheid tydens godsdienstige of geestelike rituele te sorg en dit is al langer in gebruik as koffie. Volgens oorlewing is die blare van die plant deur Alexander die Grote gebruik, wat verantwoordelik was vir die wonderbaarlike lewenskragtigheid en genesing van al sy troepe.
In 1980 het die Wêreld Gesondheids-organisasie (WHO) khat (boesmantee) as ‘n dwelm geklassifiseer. Dwelmhandel in hierdie plant is baie beperk, omdat die stimulerende eienskappe van die dwelm sy eienskappe baie gou nadat dit gepluk word verloor. Die dwelm katinoon, wat voorkom in Catha edulis, is as ‘n dwelm in die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkelary, Wet 140 van 1992, in Suid-Afrika gelys. Die gebruik van boesmantee-blare vir die stimulerede effek is nie algemene praktyk in Suid-Afrika nie en is beperk tot sekere groepe mense in die Oos-Kaap.
Die boom groei baie maklik van saad en steggies en dit is ‘n beskermde plant in Suid-Afrika.
Vrywaring: Alhoewel talle tradisionele gebruike vir plante in die hierdie artikel aangedui word, neem die outeur en / of publiseerder van hierdie artikel geen verantwoordelikheid vir enige siekte, dood of enige ander ongerief wat veroorsaak kan word deur die gebruik van enige van die plante soos in die artikel beskryf word nie.