AGRI-PULSE – RUSTENBURG - Tambotie-bome kom tipies voor in warm valleie, breëblaar bladwisselende bosveld, oop savanne en gewoonlik naby waterbronne waar dit dikwels digte stande vorm.
Die teenwoordigheid van hierdie klein tambotie-woude bestaande uit ‘n mengsel van jong, sub-volwasse en volwasse bome is waarskynlik toe te skryf aan saadbesmetting deur die larwes van die klein grysmot (Emporia melanobasis), wat binne in die groen vrugte ontwikkel.
Die larwes maak ’n knipmesbeweging binne-in die drie segment vrug en druk teen die wand van die vrug wat veroorsaak dat die vrug met ’n knal geluid oopbars en dit die sade laat uitskiet. Hierdie aktiwiteit, wat vir verskeie ure kan voortduur, help om die saad naby die moederboom te versprei. Hierdie verskynsel dra ook by tot die plaaslike voedselweb deur voedingstowwe aan verskeie ander organismes binne die ekosisteem te voorsien.
In die Waterberg-distrik word hierdie boom-eilande thomboti-assosiasies genoem. Thomboti is ‘n variasie van die inheemse isiZulu-woord umThombothi, wat “giftige boom” beteken met verwysing na die wit melksap se irriterende en giftige aard. Die boom, wat deel is van die EUPHORBIACEAE-familie, sluit verskeie kruie, struike, bome, vetplante en klimplante in. Die gewilde poinsettia (Euphorbia pulcherrima) word dikwels in stadstuine as sierplante aangeplant.
Die tambotie is ‘n medium-groot droogtebestande boom wat immergroen of bladwisselend kan wees. Al die dele van die boom bevat ’n irriterende wit melkagtige sap, wat giftig is vir mense. Kontak met die melksap kan lei tot beduidende blase op die vel. Verskeie dele van die boom word in tradisionele praktyke en medisinale gebruike aangewend. Vars melksap word soms in klein hoeveelhede op ’n seer tand geplaas om tandpyn te verlig, terwyl afkooksels van plantmateriaal gedrink word om maagpyn te behandel. Te veel van die melksap kan naarheid, braking en selfs dood veroorsaak. Die giftige melksap wat ook in die bas voorkom, word ook tradisioneel gebruik om vis te immobiliseer sodat dit makliker gevang kan word.
Ten spyte daarvan dat die melksap giftig is vir mense, speel die tambotie ‘n belangrike ekologiese rol deur diverse wilde lewe te ondersteun. Die giftige melksap wat moontlik as ‘n afskrikmiddel en verdediginsmeganisme teen herbivore ontwikkel het, skrik nie herbivore soos olifante, swart renosters, verskeie blaarvreters, asook ‘n verskeidenheid voëls, insluitend tarentale, wat op die blare en sade voed, af nie.
Die liggeel spinthout is omring deur donkerbruin kernhout, wat termiet en houtboorder bestand is. Die hout is gesog vir sy duursaamheid, kenmerkende geur, olieagtige afwerking en fyn grein. Dit word algemeen gebruik in die produksie van meubels, houtsneewerk en vervaardiging van klein dekoratiewe voorwerpe. Stukkies hout kan tussen klere geplaas word om as insekafskrikmiddel te dien. Tydens bewerking van die hout moet die nodige voorsorg getref word om te verhoud dat houtsaagsels in die oë beland. Die Venda-mense gebruik rook van Spirostachys africana om hul hutte te rook en om hout-boorders en ander insekte te beheer.
Hierdie boom beskik oor verskeie kenmerkende eienskappe. Droë hout wat brand skei rook met ‘n soet geur af, wat naarheid en diarree kan veroorsaak indien dit ingeasem word. Dit word algemeen aanbeveel om nie met tambotie-hout te braai nie, maar indien die hout uitgebrand is, geen rook meer voorkom nie en behoorlike kole gevorm het, kan daar op die hout gebraai word sonder nagevolge. Spirostachys africana is in die kampvuur-houtskool gevind by die Sibudu argeologiese terrein, ‘n rotsbeskutting in KwaZulu-Natal. Ontleding van goed-behoue houtskool en sade dui op die historiese gebruik van tambotie-hout vir kookdoeleindes wat ongeveer 77 000 tot 38 000 jaar gelede dateer.
Die tambotie staan uit weens sy unieke voorkoms - dit word waardeer vir sy skoonheid, as ’n simbool van lewenskragtiheid en ten spyte van die vele medisianel gebruike, toon Spirostachys africana ook giftige eienskaappe en kan die giftige melksap nadelig wees as dit nie versigtig gebruik word nie.