Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sidebar

11
Fri, Jul

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRI-PULSE – NOORDWES - Oral in die wêreld bestaan daar tradisionele gebruike en kennis met betrekking tot die gesondheidspraktyke vir mense en diere. Volgens die World Health Organization (WHO), is 80% van die wêreld se bevolking afhanklik van tradisionele medisyne om aan hul daaglikse gesondheidvereistes te voldoen.

In die meeste dele van landelike Afrika is die afhanklikheid van tradisionele medisyne deels te wyte aan die hoë koste van moderne medisyne. Tradisionele medisinale gebruike word deur oorlewing van die een geslag na die ander (veral kruiedokters en tradisionele genesers) oorgedra. Vanselfsprekend is hierdie stelsels meer kultureel aanvaarbaar vir die plaaslike bevolking. Plante is dus ‘n onmisbare bron van medisinale preparate vir beide voorkomende en kuratiewe voorskrifte. Die plante word ook gebruik in godsdienstige seremonies, sowel as vir bo-natuurlike ervarings. 
Die Securidaca longepedunculata (krinkhout) is ‘n lid van die Melkkruidfamilie (Polygalaceae). Tog kan die ertjie-grootte blomme van die plant die indruk laat dat dit eerder aan die Ertjie-familie (Fabaceae) behoort. Securidaca is afgelei van die Latyn securis, wat strydbyl beteken en verwys na die vlerk van die vrugte wat strydbyl-vorming is. Die spesie naam longependuculatus / -a / -um verwys na die blomme met lang blomstele. 
Dié savannaboom kom voor in die Noordwes- en Limpopo-provinsies van Suid-Afrika, in Mosambiek en is wydverspreid in tropiese Afrika.  Elders in Afrika staan die plant bekend as “die koning  van alle medisyne”, as huldeblyk vir die talryke medisinale gebruike.  In Suider-Afrika is dit van die gewildste van al die tradisionele medisinale plante en ook een van talle bedreigde plantspesies in Suider-Afrika. Alle dele van die plant word gebruik vir byna elke denkbare mediese kwaal en is gevolg hiervan onder groot druk vir sy voorbestaan as gevolg van  onbeheerde muti-oes, asook droogtes, veldbrande, vernietiging van die natuurlike habitat en ontbossing.
Die wortelekstrakte bevat metielsalisilaat, wat uiters giftig is by hoë konsentrasies. Dit het ‘n sterk aromatiese reuk, soortgelyk aan die kommersiële Wintergreen-salf. Die wortels word as slang-afweermiddel gebruik en fyngekapte wortels gemeng met water en sout word vir slangbyte en knaende hoes gebruik. ‘n Gemaalde wortelafkooksel word saam met water gedrink om lewer, niere, urinêre, geslagsiektes en ook testikulêre inflammasie, lae libido, steriliteit, menstruasie, rumatiek en artritis te behandel. Blare en groen takkies word in water geweek en as ’n tonikum gedrink. 
Fyngekapte blare en wortels word gekook en gebruik om wonde, diarree, slangbyte en bilharzia te behandel. Fyn gemaalde wortel-konkoksies en houtskaafsels word gebruik vir respiratoriese infeksies en abdominale pyn, terwyl infusies van die wortels gebruik word om tropiese maagsere, borskwale, hoofpyn, inflammasie, aborsie, rituele sélf dood, tuberkulose, onvrugbaarheid probleme, geslagsiektes en hardlywigheid te behandel. Tandpyn kan verlig word deur wortels te kou. Wortelpulp dien as ‘n pynstiller en word op die voorkop aangewend om hoofpyn en rugpyn te verlig.
Sommige Suid-Afrikaanse tradisionele gesondheidswerkers beweer dat die aftreksels en bestanddele in die wortelbas van die boom effektiewe middels is vir die behandeling en beheer van pynlike artritiese en ander inflammatoriese toestande, sowel as vir Diabetes mellitus Tipe 2.
In Limpopo, gebruik die vhaVenda mense die wortels vir behandeling van geestesgesondheid en as voorkomende medisyne in die beskerming van kinders teen siektes tydens borsvoeding. Die verpoeierde bas van die boom word met magou, (ook bekend as mageu, amahewu of aramrewu) ’n nie-alkolholiese drank wat  van mielies of sorghum gebrou word en dieselfde fermentasieproses as jogurt ondergaan, gemeng. Gewoonlik drink mans dit as ‘n seksuele hupstoot of stimulant. Navorsingsresultate gepubliseer deur die Universiteit van Pretoria het aangetoon dat krinkhout-ekstrakte potensiaal het as ‘n toekomstige kandidaat vir die behandeling van erektiele disfunksie. Die wonderkuur is in die krinkhout se wortels en bas, maar dit beteken nie dat mans nou onder die boom kan gaan kamp opslaan en hul verlustig aan die geheime medisyne van die boom nie. Omdat die bas en wortels toksies is, kan groot hoeveelhede van die plantmateriaal wat ingeneem word, dodelik wees. 
Derhalwe word mans aangeraai om hulle van hierdie praktyk te weerhou en eerder ’n mediese praktisyn te besoek sou dit nodig wees.
Die saad ontkiem baie moeilik, matige sukses kan verwag word wanneer ryp saad, wat lank aan die boom bly hang,  tussen Januarie en April geoes word. 
Verskillende voorontkiemingsprosedures kan op die saad uitgevoer word, soos om die saad in water te week, gebruik van ‘n bleikmiddel en aanwending van verskillende konsentrasies van planthormone wat groei en verlenging van selle stimuleer. Die sukses-ratio vir ontkieming van saad is ongeveer 40%, ongeag die tyd wanneer die saad geoes is en / of voorontkiemings-behandelingsmetodes wat toegepas is. Die gemiddelde tyd vir ontkieming van die saad is  tussen 15 en 45 dae en die oorlewingskoers van saailinge na ‘n jaar is minder as 10%.
Vrywaring: Ten spyte van die feit dat verskeie tradisionele gebruike vir plante in hierdie artikel  bespreek word, neem die outeur/publiseerders geen verantwoordelikheid vir enige siektes, dood of enige ander ongerief wat veroorsaak word wanneer enige van die 
plante in die artikel gebruik word nie.