Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sidebar

20
Mon, Jul

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRI PULSE – BOTHAVILLE - In ’n tyd waar landbou toenemend onder druk funksioneer - van klimaatsveranderlikheid en stygende insetkoste tot mark- en beleids-onsekerheid - verskuif die fokus in 2026 na een kernbeginsel: veerkragtigheid.

Vanjaar se Nampo Oesdag, wat van 12 tot 15 Mei by Nampo Park buite Bothaville plaasvind, bring dié fokus tot lewe met die tema: “Veerkragtigheid deur innovasie.” As die grootste landbouskou in die suidelike halfrond bly Nampo die belangrikste ontmoetingspunt vir produsente, landboubesighede en die breër waardeketting - ’n platform waar tegnologie, kennis en praktiese oplossings saamkom. 
“Veerkragtigheid gaan nie meer net oor oorlewing nie, maar oor die vermoë om aan te pas, beter besluite te neem en volhoubaar winsgewend te bly. Nampo bring die oplossings, tegnologie en gesprekke bymekaar wat produsente nodig het om hierdie uitdagings met vertroue aan te pak,” sê Dr Dirk Strydom, besturende direkteur, Nampo (Edms) Bpk.
Nampo 2026 bou voort op sy gevestigde reputasie, maar bring terselfdertyd nuwe energie en ontwikkeling na die terrein. Besoekers kan uitsien na nuwe produkbekendstellings, insluitend voertuie tesame met ‘n poging om ‘n wêreldrekord te breek, en verskeie nuwe trekkers, terwyl tegnologie ’n sterk fokus bly met beplande demonstrasies van spuitdrones en ander praktiese oplossings.
Die Santam Landbou Vroueprogram, in samewerking met Rooi Rose, bly een van die hoogtepunte van Nampo en vind weer plaas in die gewilde Rooi Rose-tent. Die program beloof ’n dinamiese mengsel van inspirasie en vermaak met kunstenaars en persoonlikhede soos onder meer Hannon, Willem Botha, Amanda Strydom, Carmién Tea, Reandi Grey, Lizz Meiring, Susan Coetzer, John Rock Prophet en Hannes van Wyk.
Benewens nuwe ontwikkelings bly die kern van Nampo se sukses die bekende elemente waarna besoekers jaar na jaar terugkeer. Die gewilde Standard Bank 4x4-baan en Avontuur 4x4-baan bied steeds aksiebelaaide demonstrasies, terwyl die saadpersele aan die oostekant waardevolle insig bied in die nuutste genetika en gewasopsies.
      Die Nampo 2026-toep speel ’n sleutelrol om besoekers se ervaring te verbeter. Met toegang tot meer as 900 uitstallers, verbeterde navigasie en interaktiewe funksies kan besoekers hul roetes vooraf beplan, uitstallings maklik opspoor en die terrein in detail verken. Die toepassing bring alle noodsaaklike inligting - van programme tot video-inhoud - saam op een platform.
      Beweging op die terrein bly eenvoudig en doeltreffend. OFM saai weer regstreeks uit vanaf Nampo Park en deel belangrike verkeers- en roete-opdaterings. Die gewilde Mieliehop-pendeldiens verbind Bothaville en Nampo Park daagliks, terwyl addisionele roetes vanaf OR Tambo en omliggende dorpe toegang verder vergemaklik.