AGRI-PULSE - BOTHAVILLE - Vanjaar se NAMPO Oesdag, die 57ste aanbieding van die vlagskipgeleentheid van 13 – 16 Mei, onderstreep die tema: “Globale Landbou, Plaaslik!”
Die NAMPO Oesdag word jaarliks by NAMPO Park, Bothaville gehou, en bevestig steeds sy status as die grootste en invloedrykste landboupronkstuk in die suidelike halfrond. Getrou aan sy reputasie, is NAMPO 2025 gerat om die nuutste wêreldwye landbou-innovasies, aangepas vir plaaslike toestande, in ‘n unieke Suid-Afrikaanse konteks ten toon te stel.
Dit bly die eenstopplatform vir produsente, landboubesighede en diensverskaffers om te verenig, saam te werk en handel te dryf.
“Globale Landbou, Plaaslik” is nie net ‘n tema nie - dit is ‘n lens vir Suid-Afrika se graanprodusente om hul rol in ‘n snelveranderende landbou-ekonomie te sien.
Die uitruil van idees, tegnologie en praktyke oor grense heen bied ongekende geleenthede vir plaaslike boere om hul veerkragtigheid, mededingendheid en volhoubaarheid te verhoog. Van klimaatslim-praktyke tot presisielandbou, Suid-Afrikaanse produsente is deel van ’n wêreldwye netwerk van kennis – maar met diep wortels in plaaslike grond.
Aangesien voedselsekerheid, insetkoste en produksiedoeltreffendheid steeds landbougesprekke oorheers, bied NAMPO 2025 aan produsente die gereedskap, tegnologie en verhoudings wat hulle nodig het om hierdie komplekse landskap te verken. Of dit die nuutste masjinerie, klimaataanpasbare saadvariëteite, agri-finansieringsdienste of digitale oplossings is, NAMPO bly die platform waar plaaslike en wêreldwye rolspelers mekaar ontmoet.
“Suid-Afrikaanse produsente verstaan dat hulle nie in isolasie boer nie. Wat wêreldwyd gebeur - of dit nou innovasie, handelsvloei of klimaatpatrone is - beïnvloed wat plaaslik gebeur. NAMPO bied produsente toegang tot wêreldklas-landbou op een plek, met oplossings wat hulle vandag kan gebruik. Dit bly die uiteindelike eenstopgeleentheid vir enige ernstige speler in die landboubedryf,” sê dr Dirk Strydom, besturende direkteur: NAMPO (Edms) Bpk.
Wat is nuut @ NAMPO 2025
• Om aan die steeds groeiende vraag na verblyf tydens NAMPO te voldoen, is ‘n splinternuwe karavaanpark met 100 staanplekke en twee ablusieblokke bygevoeg net suid van die terrein by Hek 2. Met maklike toegang en buigsame opsies na gelang van jou behoeftes, is dit die ideale oplossing vir besoekers wat naby die aksie wil bly. Besprekings kan aanlyn gedoen word by www.kleinbroekskool.co.za
• Die deure van die Syngenta Boerekos Plaaskombuis is weer oop by NAMPO - en hierdie jaar is dit groter, beter, en nog lekkerder! Geniet topgehalte, restaurant-styl geregte teen bekostigbare pryse, met top gehalte-vleis en pluimvee van vyf geselekteerde kosvennote. Die spyskaart, ontwikkel deur Boerekos-redakteur, Arina du Plessis en saamgestel deur The Roots Academy-sjefspan van Potchefstroom, sluit uitstaande maaltye in soos varsgebakte platbrode met gesnipperde beesvleis, salsa en suurroom, bros goue hoenderrotis, en sappige varknek- of beesvleisburgers met aartappelwiggies. Of jy nou in die ontspanne plaasstyl-omgewing of ‘n wegneemete geniet, besoekers sal dieselfde kwaliteit ervaar wat in die bekroonde Boerekos-tydskrif gevind word. En vir vroeg opstaan - moenie die uitstekende koffie en tuisgemaakte beskuit mis om jou dag reg te begin nie. NAMPO se klassieke kosstalletjies, wat deur skole, kerke en gemeenskapsorganisasies bestuur word, bied in 2025 selfs meer verskeidenheid.
• Graan SA Museum - ‘n Huldeblyk aan nalatenskap, stap in die ryk nalatenskap van Graan SA en die NAMPO Oesdag by die nuut onthulde Graan SA Museum, met trots geborg deur Santam. Geleë langs die “Chairperson’s Lounge” aan die westekant van die park, vertel die museum die reis van die organisasie en NAMPO se transformasie oor die jare. Dit is ‘n moet-sien vir almal wat die wortels van Suid-Afrikaanse graanproduksie wil eer.
Kaartjies is beskikbaar by www.opentickets.com, met afslag op toegangsfooie vir diegene wat aanlyn koop. Hekke open daagliks om 07:00 en sluit om 17:00. Aanwysings, parkeerinligting en privaat landingstrookbesonderhede is op die NAMPO-webwerf en via die NAMPO-toepassing beskikbaar.