AGRI-PULSE – NOORDWES - Grootskaalse biotiese gemeenskappe, of biome, word getipeer en beskryf volgens die gevestigde plante en diere wat in ekologiese sones binne ’n geologiese tydperk voorkom.
Hierdie gemeenskappe tipeer wêreldwye waarneembare patrone van plantbedekking.
Biome kan breedweg met klimaatsones geassosieer word, hoewel ander omgewingsfaktore soos geologie, reënval, temperatuur en die voorkoms van brande ook ‘n belangrike rol speel.
Elke bioom het ‘n kenmerkende stel plant- en dierspesies en vertoon ‘n algemene voorkoms as gevolg van die groeivorm van die plantspesies. Hierdie algemene planteienskappe laat ‘n kenmerkende visuele merk op die bioom. Mucina & Rutherford (2006) het nege biome vir Suid-Afrika geïdentifiseer, naamlik fynbos, sukkulente Karoo, woestyn, Nama-Karoo, grasveld, savanne, Albany-ruigtes, Indiese oseaan-kusgordel en woude. Biome kan opgebreek word in kleiner, meer homogene ekologiese eenhede of plantegroeitipes volgens dominante plantspesies en die digtheid en hoogte van plante. Met ander woorde, die voorkoms van bome in die landskap en hul kenmerkende groeivorme weerspieël die bioom, habitat of veldtipe waarby hulle aangepas is. Die klimaat, reënval, vuur, ryp, grondvog en ligintensiteit vorm nie net bome nie, maar bepaal ook of plante in ‘n spesifieke plek kan groei. Die meeste bosveldbome is byvoorbeeld aangepas om veldbrande te weerstaan.
Suid-Afrika spog met ‘n werklik diverse en pragtige ekologiese landskap, propvol natuurlike skoonheid en ryk biodiversiteit. Die gemiddelde reënval is ongeveer 450 mm per jaar (vergeleke met die wêreldgemiddelde van 950 mm), maar groot en onvoorspelbare variasies kom gereeld voor. Klimaat en reënval is deurslaggewende faktore wat die voorkoms, verspreiding en oorvloed van bome in Suid-Afrika beïnvloed.
Streke met hoër reënval soos die kusgebiede van die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en dele van Mpumalanga ondersteun digte woude en bebosde savanna-bosveld.
Droë en semi-droë streke van die Kalahari, Noord-Kaap en Karoo het minder boomspesies, plante is tipies droogtebestand en aangepas om in hierdie uiterste toestande te oorleef. Immergroen boomspesies kom veral voor in natter, warmer kus-, berg- en misgordelwoude, subtropiese streke en beboste valleie regoor Suid-Afrika.
Met al die goeie reën wat in Februarie oor die grootste deel van die land geval het, is talle gevalle van versuiping aangemeld. Versuipte bome vertoon dikwels verskeie simptome wat aandui dat hulle sukkel met oortollige vog soos verwelking en vergeling van die blare, swamgroei, wortelvrot, sagte bas of pap stingels, vertraagde groei en onderontwikkeling van nuwe blare. Nie baie inheemse bome in Suid-Afrika sal in versuipte omstandighede of habitat kan oorleef nie.
Koorsbome (Vachellia xanthophloea) is ‘n prominente kenmerk in die Laeveldstreek. Die chlorofil-gevulde, groen bas wat kan fotosinteer maak dat die boom nie net van blare afhanklik is vir hierdie belangrike proses vir oorlewing nie. Dit word gewoonlik aangetref in digte stande op die rand van vlak panne, in moerasagtige en seisoenale vloedvlaktes, langs mere en rivieroewers.
Dit verkies alluviale grond, en die beskikbaarheid van grondwater is ‘n belangrike faktor in die groei, ontwikkeling, spesiesamestelling en verspreiding van hierdie savannebome. Soos die meeste ander doringboomspesies, het die plant wortelknoppies wat stikstofbindende bakterieë bevat en dit speel ‘n belangrike rol in stikstofverryking van die grond wat ‘n positiewe impak op die groei van ander plante naby die boom het.
Seisoenale oorstromings veroorsaak dat die wortels van die koorsboom “versmoor” en om die gebrek aan suurstof te oorkom, het die plant sekere aanpassings ontwikkel. Die sogenaamde pneumatofoor of “snorkelwortels” wat tydens hierdie stresvolle toestande op die oppervlak verskyn, laat die plant suurstof in ‘n andersins anaërobiese substraat verkry. Die wortels is tipies sponsagtig en het talle klein porieë wat lentiselle genoem word, wat gaswisseling vergemaklik. Hierdie strukture wissel in grootte en vorm na gelang van omgewingstoestande. Die spesie is dus perfek aangepas om in sy natuurlike habitat te oorleef.
As gevolg van hierdie aangepaste oorlewingstrategie om snorkelwortels te laat groei, sal die boom ook aanpas en oorleef in omgewings wat kunsmatig geskep of verander is deur die mens, soos by parkeerareas in winkelsentrums. Die uiters groot oppervlakte onder plaveisels en teer is ‘n kunsmatige vloedvlakte wat seisoenaal deurdrenk is met reënwater, wat die groei van die snorkelwortels stimuleer. Dit is dus nie ‘n goeie opsie om hierdie bome in parkeerareas of stadstuine aan te plant nie.