AGRI-PULSE – NOORD-KAAP - Statistiek vrygestel deur Stats SA dui daarop dat jeugwerkloosheid steeds ‘n krisis is wat Suid-Afrika diep raak.
Werkloosheid het in die vierde kwartaal van verlede jaar op 31,4% gestaan, terwyl die koers vir ouderdomme 15–34 op 43,8% gestaan het, wat onder die hoogste ter wêreld is - byna 5,8 miljoen jongmense wat nie die arbeidsmark kan betree nie.
“’n Belangrike uitdaging is dat jongmense sukkel om hul eerste werk te kry. Dit vang hulle vas in ‘n siklus waar werkgewers ervaring eis, maar jongmense het dit nie,” verduidelik Cindy Nkgoeng, HR-bestuurder by Beefmaster Group.
“Terwyl jeugwerkloosheid beide mans en vroue raak, staar jong vroue dikwels bykomende hindernisse in die gesig om die arbeidsmag te betree,” sê Nkgoeng. “In baie gevalle het hulle minder geleenthede om praktiese werkplekervaring op te doen.”
Sedert 2022 bied die Beefmaster Group ‘n leerling-skapprogram vir werklose jongmense.
Die eenjaarprogram kombineer klaskameropleiding van ‘n geakkrediteerde verskaffer met praktiese ervaring in vleisverwerking, hantering, sny en voedselveiligheid. Nkgoeng sê die inisiatief help nie net om werkloosheid aan te spreek nie, maar bou ook skaars vaardighede in die varsvleisbedryf. “Sedert die aanvang van die program, het 120 leerders deelgeneem. Elke leerder ontvang ook ‘n N2-sertifikaat wat deel is van die Nasionale Tegniese Sertifikaat (NTK) in Suid-Afrika, gefokus op beroeps- en tegniese vaardighede. Hierdie sertifikaat verhoog hul indiensneembaarheid.” Van diegene wat die program suksesvol voltooi het, het 60 jongmense wat voorheen werkloos was, voltydse poste by die Beefmaster Groep gekry.
Jeanette January is een van die vroue wat in 2022 by die program aangesluit het en nou werk sy as ‘n algemene werker by die Beefmaster Groep.“Gedurende die jaarlange program het ek praktiese vaardighede aangeleer soos hoe om die skaal te gebruik, hoe vleis geweeg en gesny moet word en hoe om verskillende take in die produksieomgewing te bestuur. Die voltooiing van die leerlingskap en die ontvangs van my sertifikaat was ‘n trotse oomblik vir my, en nou kan ek vir myself sorg en my gesin onderhou,” sê January.
Net so het Jane Bitterbos, wat as ‘n assistent in die Gesondheid-, Veiligheid- en Omgewingsafdeling werk, ook die leerlingskap in 2023 voltooi. “Tydens die leerlingskap het ek praktiese vaardighede in vleisverwerking, gehaltebeheer en voedselveiligheid opgedoen. Ek het geleer hoe belangrik spanwerk en probleemoplossing in ‘n produksieomgewing is. Toe ek ‘n permanente pos aangebied is, was ek baie bly en verlig.” Sy moedig enige werklose jeug aan om die beste van elke geleentheid te maak.
w“Moenie bang wees om die sprong te waag en aansoek te doen nie. Geleenthede soos hierdie kan ‘n keerpunt vir jou loopbaan wees. Wees oopkop, werk hard en maak die meeste van die ervaring,” sluit Jane af.









