AGRI-PULSE – BRITS – Van piekels tot pesto en blatjang tot konfyt, het Lizelle Elliott van Geluk net buite Brits, gewys sy is ‘n preserveerkoningin toe sy as wenner van die Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe in die afdeling vir kerrieboontjies gekroon is.
Sy is ‘n voorslag in haar kombuis en haar rakke kreun behoorlik onder ‘n groot verskeidenheid van al haar ingelegde produkte wat sy Ietsie Lekker Tuisgemaak noem.
Benewens die feit dat haar kerrieboontjies die beste in die land is, het sy ook ‘n silwer toekenning vir haar “Basil Pesto” ontvang.
Vanjaar was die eerste keer wat die Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe plaasgevind het en ‘n rekordgetal van bykans 500 inskrywings is ontvang. Die prysuitdeling het op 19 Augustus by ‘n wynlandgoed in Stellenbosch plaasgevind.
Op die vraag wat haar kerrieboontjies so ekstra lekker maak, het sy nie veel van haar geheim gedeel nie, maar wel gesê dat dit ‘n outydse resep wat sy haar eie kinkel gegee het.
Volgens die hoofbeoordelaar van die SA Preserveerkampioenskappe, Susina Jooste, het die inskrywings alle vewagting oortref en dit was duidelik dat die tyd ryp is vir nasionale erkenning van gehalte gepreserveerde produkte.
“Die kompetisie is ‘n viering van tradisie, vakmanskap, innovasie én plaaslike trots,” sê Jooste. “Hierdie preserveerkampioenskappe is geskep om topgehalte produkte te erken, bewustheid oor preservering te verhoog, bemarkingsgeleenthede vir entrepreneurs te bied en die kuns van voedselbewaring te vier. Dit is ook ’n platform vir kennisdeling, volhoubaarheid, ekonomiese groei, die verhoging van standaarde en die vermindering van voedselvermorsing.”
Die beoordelaarspaneel van 38 kenners het onder meer bestaan uit bekende sjefs, gesoute kosskrywers, klein- en groothandelspesialiste, kundiges uit die gasvryheidsbedryf, sjefstudente, afgevaardigdes van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland en selfs enkele vervaardigers self. Produkte is deur middel van ’n blinde proeproses (waar beoordelaars nie weet wie watter produk gemaak het nie) beoordeel. Dis objektief en onafhanklik.
Jooste sê innovasie is een van die beoordelingskriteria en dat dit besonder opvallend was dat Lizelle se kerrieboontjies gevul was met oorspronklikheid en kreatiwiteit. “Ek is oortuig daarvan dat die kompetisie ‘n impak op gehalte in die mark gaan hê en dat verbruikersvertroue in preserveerprodukte sal toeneem.”
Vir meer inligting oor Ietsie Lekker Tuisgemaak skakel Lizelle Elliott by 079 984 7411.