AGRI-PULSE – NOORDWES - Die EUPHORBIACEAE (Naboom-familie) is ‘n baie groot en diverse blomplantfamilie. Daar is ongeveer 250 - 300 genera en ongeveer
5 000 - 6000 spesies. Die plante van hierdie familie word regoor die wêreld aangetref en die familie word verteenwoordig deur verskeie genera soos, Euphorbia, Ricinus, Phyllanthus, Croton, Pedilanthus.
In die droë woestynstreke van Afrika en elders word die familie verteenwoordig deur kaktusagtige plante van verskillende spesies van Euphorbia. Die genus Euphorbia was deur Linnaeus in 1753 beskryf en baie Euphorbia-spesies, veral vetplante, word oor die hele wêreld as tuinplante gekweek. Een van die bekendste lede van die familie wat in baie tuine aangetref word, is die uitheemse Euphorbia pulcherrima (poinsettia / karlienblom), wat uiters giftig is. Ander bekende spesies in die familie sluit in, Hevea brasiliensis - dit is ‘n bron van rubber en word oral in die wêreld verbou. Die dodelike gif van Jatropha curucas (purgeerboontjie), veroorsaak baie kindersterftes waar die plante voorkom en die saadolie gebruik word vir die maak van kerse, seep en vervaardiging van bio-diesel. Kasterolie (Ricinus communis) is bekend sedert antieke tye (4 000 VHT) en deesdae word die olie gebruik as bio-diesel, smeermiddel en as rou materiaal in die vervaardigingsproses van plastiek. Algemeen bekend as die kasterolieplant, word verskeie dele van die plant, soos die blare, wortels en sade, gebruik in die behandeling van verskillende kwale, insluitend ooginfeksies, lewer siektes, en seksueel-oordraagbare infeksies.
Met ongeveer 53 genera en 537 inheemse spesies is dit die tweede grootste plantfamilie in Suider-Afrika. Dit is ‘n baie heterogene familie met uiters uiteenlopende groeivorms en bloeiwyses. Gelukkig kan die oorgrote meerderheid van die spesies geïdentifiseer word deur ‘n kombinasie van die volgende kenmerke: ‘n wit taai melksap, enkelvoudige teenoorstaande of afwissellende blare, pare kliere wat aan die onderkant van die blaar, of by die blaarbasis naby die blaarsteel aangetref word en ‘n steunblaarsteel, wat gewoonlik vroeg afval en wat ‘n duidelik sigbare steunblaarsteel letsel laat.
Die komplekse gespesialiseerde blom-samestelling word ‘n siatium genoem (wat koppie beteken). Dit is ‘n nabootsing van werklike blomme en gewoonlik omsluit die sitatium een vroulike blom en vele manlike blomme in. Elke vroulike blom beskik oor ‘n drie-kamer ovarium wat gewoonlik by rypwording ontplof om die sade vry te stel. Die vroulike blomme bereik eertse volwassenheid wat kruisbestuiwing aanmoedig, gevolg deur die klein manlike blomme wat almal op verskillende stadiums van ontwikkeling volwassenheid bereik.
Euphorbia cupularis (dooimansboom) is ‘n sukkulentagtige inheemse plant wat in Limopo en die oostelike tropiese dele van Suider-Afrika voorkom. Dit kan baie maklik met die uitheemse rooi-en wit frangipani (Plumeria alba en P. rubra) verwar word. E. cupularis word algemeen in Europa en Noord-Amerika as huisplante aangetref. Die boom is struikagtig met ‘n ronde kroon. Die stam is blinkgroen, glad en dik. Die vlesige blare is groot, haarloos en saamgedronge aan die takeindpunte. Alle dele van die plant skei groot hoeveelhede wit melksap af wanneer dit beskadig word.
Die dooimansboom, of umdlebe in isiZulu, word beskou as gevaarlik en is gekoppel aan magiese en geestelike kragte. In volksverhale word diegene wat met umdlebe geassosieer word umthakathi (isiZulu) genoem, wat ‘n heks beteken, wat geheime towerkuns gebruik.
Die onheilspellende dooimansboom staan in isiZulu bekend as umdlebe en die boom het die reputasie as ’n bose plant en gevaarlike bron van magiese en geestelike eienskappe. Enige assosiasie in volksverhale of mitologie met umdlebe, verwys dikwels na die betrokke persoon as ’n umthakathi (isiZulu), ’n vrou wat oor magiese kragte beskik en gelukbringers gebruik wat in Afrikaans vertaal na ’n heks.
Die wit melksap van hierdie Euphorbia is uiters giftig en bevat komplekse bestandele wat vel irritasies veroorsaak. Kontak met die sap kan ernstige brandwonde veroorsaak aan die vel, oë, neus en lippe. Die erge inflammasie en striemende pyn kan dikwels vir ‘n paar uur aanhou. ‘n Brandende sensasie gevoel kan ervaar word, selfs al was daar geen direkte kontak met die vel nie, omdat die plant die vermoë het om deur chemise afskeiding die irritasie dampe vry te stel, indien mens of dier naby dit kom. Die melksap kan permanente blindheid veroorsaak deur totale vernietiging van die kornea.
Alhoewel die plant hoogs toksies is, het dit verskeie tradisionele gebruike wanneer dit versigtig toegedien word. Die sap word tradisioneel gebruik vir menstruele pyn, as ‘n purgeermiddel, en vir die skoonmaak van wonde of die verligting van tandpyn. Dit dien ook as visgif. Gedroogde blare word gebruik vir hoofpyn, benoude bors, griep en melaatsheid, terwyl ‘n blaar-afkooksel gemeng met lemoensap, bakpoeier en heuning as behandeling vir asma dien. Rook van gebrande hout word ingeasem tydens rituele, en geroosterde wortels word gebruik om verlamming te behandel.