Naas Grové
AGRI-PULSE – RUSTENBURG - In die Afrika-veld gaan oorlewing dikwels oor tydsberekening. Wanneer die reën kom, groei plante. Wanneer die hitte toeneem en water skaars raak, word die groei vertraag, verloor plante hul blare in afwagting op meer gunstige toestande.
Min plante demonstreer hierdie vermoë om aan te pas so treffend soos Tinospora fragosa — ’n merkwaardige Suider-Afrikaanse rankplant wat ook as die wonderstok, Moses-se-kierie of Aäron se staf bekendstaan.
Wat dié plant besonders maak, is sy vermoë om letterlik weer wortel te skiet. As ’n takkie of stingel beskadig word of afbreek, beteken dit nie noodwendig die einde nie. Die afgesnyde deel kan hoog tussen die takke van ’n boom bly leef en ’n nuwe lugwortel vorm. Dié wortel groei grond toe en sodra dit die aarde bereik, sal dit vestig en geleidelik ’n nuwe, funksionele wortelstelsel vorm. Onder gekweekte toestande is aangeteken dat hierdie lugwortels sowat 10 tot 20 millimeter per dag kan groei.
Tinospora fragosa kom natuurlik in verskeie dele van Suider-Afrika voor, waaronder Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe, Namibië en Angola. In Suid-Afrika word dit veral in Lim-popo en Mpumalanga aangetref, met rekords ook uit die Noordwes provinsie.
Die plant is goed aangepas by warm, seisoenale droë savanna-toestande. Die dik, sap-pige stingels rank deur bome en struike en kan hoogtes van 10 tot 15 meter bereik. Dit plaas groot dele van die plant buite die bereik van diere wat aan hierdie plante vreet.
Maar die bosveld kan rof wees. Koedoes vreet die blare en takkies, olifante beweeg deur digte plantegroei en bros stingels breek soms af. Waar so ’n gebeurtenis vir die meeste ander rankplante noodlottig kan wees, sal Tinospora fragosa eenvoudig floreer, deur afwaarste lug-wortels te groei. Waar dit die grond bereik sal die lugwortles baie gou in funksionle stamme verander.
Dit is veral gedurende die droë seisoen dat die plant weet hoe om te oorleef. Rondom April of Mei verloor hy gewoonlik sy blare, wat sy behoefte aan water en energie verminder. Sodra warmer weer terugkeer en die somerreën begin val sal nuwe groei vinnig spruit, meestal vanaf November.
Die plant dra klein, groenerige blommetjies, met manlike en vroulike blomme op afsonderlike plante. Die vroulike plante vorm later rooierige vrugte wat deur vrugtevretende voëls versprei word.
Die plant is ook al geslagte lank deel van Suider-Afrikaanse tradisionele medisinale gebruike. Voorbereiding daarvan is onder meer gebruik vir rumatiese pyn, liggaamspyne, hoes en seer kele. Historiese rekords uit Namibië beskryf selfs die gebruik daarvan tydens miltsiekte-uitbrekings onder beeste. Hierdie gebruike is deel van waardevolle inheemse kennis, maar moet nie as wetenskaplik bewese mediese of veeartsenykundige behandelings beskou word nie.
Dalk lê die grootste bekoring van Tinospora fragosa juis in sy eenvoud.
Wanneer toestande goed is, groei dit geweldig vinnig. Wanneer hulpbronne skaars raak, word die blare kleiner om verdamping te verminder. Wanneer dit beskadig word, pas dit aan deur nuwe wortels te groei.
In die Afrika-bos gaan oorlewing nie altyd daaroor om verandering te weerstaan nie. Soms gaan dit daaroor om te weet wanneer om te groei, wanneer om te wag - en wanneer om weer wortel te skiet.
Naas Grové







