Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sidebar

27
Sat, Jul

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRIPULSE – NOORDWES - Die sprokiesagtige Buffelspoortvallei teen die hange van die Magaliesberg nagenoeg 30 km suidoos van Rustenburg is vir jare al bekend as toerismebestemming by uitstek met die een vakansieplaas, lodge, hotel, gastehuis en restaurant op die ander. 

Met die Sterkstroom-waterval wat in die verte bemoedigend teen die Magaliesberg se kranse “hang” en die idilliese kristalblou Buffelspoortdam voed, is die vallei ook uitnemend geskik as voorkeur boederygebied waarin alles van steenvrugte, proteas, sitrus, granate tot bloubessies en kersies geproduseer word. 
Alicedale Berries, wat vier jaar gelede begin het om ‘n mediumgrootte-bloubessie- en kersie-aanleg hier te ontwikkel, is vanjaar in sy vierde produksieseisoen digby die bekende Tree Tops-plaasstalletjie kort duskant die “skoonste dam in die land” (Buffelspoortdam). “Daar lê vir ons nog so twee jaar se harde werk voor, voordat die Alicedale-aanleg ‘n gesaghebbende rolspeler in die bloubessie- en hopelik ‘n jaar of wat later - ook die kersiebedryf sal wees.” Die Alicedale-groep is ‘n familieonderneming wat aanvanklik op tamaties gekonsentreer het en later na sitrus uitgebrei het. Die tweede geslag is hard besig om die besigheid aan te pas by nuwe geleenthede en die uitdagings van die dag. Alicedale-groep fokus op ‘n nuwe produk, koppel dit aan ‘n spesifieke persoon en voorsien die tegnologie. Dit word gedoen deur n proses van franchising en Ruan Nell is die eerste nie-verwante franchise-lid. Die rede vir die vestiging van die bessies en kersies in hierdie omgewing is om munt te slaan uit die geleentheid wat die area se uitsonderlike klimaat bied. Ons konsentreer op produkte wat arbeidsintensief is om deel te neem aan werkskepping in n land met 40% plus werkloosheid. Ruan Nell (projekbestuurder) is ‘n Rustenburger in murg in been wat in Mooinooi grootgeword het. Die Laerskool Elandskraal en Hoërskool Grenswag in Rustenburg was Ruan se Alma Maters. Ruan het na skool chemiese ingenieurswese studeer – iets wat dalk nie algemeen is onder mense wat hulle op vrugteboerdery toespits nie. “Tog is die boerdery vandag ‘n redelike tegniese bedryf en my ingenieursagtergrond kom my handig te pas – “ek hou daarvan om te sê ons “vervaardig vrugte met goed ontwerpte prosesse. Ons is nog steeds ‘n aanleg met baie tegniese uitdagings wat deel van die bedryf is”,  som Ruan dit op.  Maar nie alle uitdagings is van tegniese aard nie, skerts Ruan. Die ongekende baie reën van verlede jaar was iets wat min mense voorsien het. Tussen 19 Oktober en 31 Desember verlede jaar het ons baie naby aan ‘n 1 000 mm se reën in die Buffelspoortvallei gehad en dit het ons geweldig geaffekteer. Ons het 180 ton se bessies verloor as gevolg van die reën – die vrugte hier het behoorlik “vrot gereën”, is ‘n bekende uitdrukking in die boerderybedryf. Soos boere maar altyd glo, sal ons hopelik vanjaar ‘n baie beter seisoen met minder terugslae hê”. Henk Claasen (pakhuisbestuurder) is op sy beurt saam met produksiebestuurder Gerhard Kruger Ruan se twee staatmakers op die plaas. By Alicedale het ons tans 32 ha se bloubessies in produksie en 11 ha se kersies. Wat bessies betref word hier met sewe verskillende variëteite geboer - almal hiervan sogenaamde MBO – Mountain Blue Orchards (Australiese genetika). 
Kersies neem gemiddeld vier jaar om in produksie te kom en die boompies wat ons nou het, is derdejaar-boompies. Nagenoeg 80% van die bloubessieboorde is vanjaar in volle produksie – daar is ook ‘n nuwe variëteit wat tans in hul tweede jaar is en nog so klompie jaar lê voor voordat hierdie boompies ook in volle produksie sal wees. Bloubessies kan normaalweg vanaf die eerste jaar gepluk word, maar om ‘n aanleg in hierdie skaal te regverdig neem ‘n boord sowat vier jaar om behoorlik op dreef te kom om wat inkomste betref, gelyk te breek of ‘n wins te begin toon. 
Wat die klimaat betref, is Moeder Natuur aan Alicedale Berries, trouens die uiteenlopende vrugtebedryf in die Buffelspoortvallei se kant met ‘n matige klimaat wat genoeg warm en koue dae insluit. Veral kersies is lief vir die koue en die laerliggende gedeeltes is uitnemend geskik vir kersieboerdery. Op die koudste winterdae word daar in die bloubessieboorde vure gemaak en word die warm lug met groot waaiers die tonnels ingejaag om seker te maak dat die bloubessies nie rypskade opdoen nie. 
Die pakhuis is 1 200 m2 groot en is toegerus om slegs bloubessies te verpak. Kersies by Alicedale word nie in hierdie pakhuis gepak nie omdat ‘n natpakproses gebruik word - onder meer omdat kersies uiters broos is en versigtig gepak moet word. Voorlopig word Alicedale se kersies deur ZZ2 gepak totdat die plaas se kersieproduksie dit mettertyd regverdig om ook sy eie kersiepakhuis te ontwikkel. Alicedale Berries spog met ‘n werksmag van 80 permanente werkers wat natuurlik aansienlik vermeerder na gelang van die tyd van die jaar. In oestye – tradisioneel hier vanaf einde Junie tot diep in November - word seisoenale werkers ook ingespan -  in piektyd  – die besigste tydperk van die jaar wat strek van September het Alicedale Berries gemiddeld 480 seisoenale werkers in die boorde aan die woeker. Alles in ag genome verwag Alicedale Berries vanjaar ‘n bloubessie-oes van min of meer 600 ton. 
Na ‘n baie druk oesperiode van vier maande neem die werkslading weer teen einde November af hoewel die werk op ‘n bloubessieplaas nooit werklik ophou nie. Dan breek die tyd aan vir voorbereiding van boorde. In hierdie tyd (laaste week in November/eerste week in Desember) word boompies gewoonlik gesnoei en word die nodige onderhoud in die boorde (tonnels) gedoen. In die relatief jong stadium van die nuwe bloubessieplaas is daar natuurlik altyd ‘n paar “buitemuurse” projekte soos die ontwikkeling en uitbreiding van nodige infrastruktuur wat aandag verg. In Januarie volg daar gewoonlik ‘n opvolgsnoei-aksie om doodseker te maak dat bloubessieboompies kerngesond en gereed is vir selfs nog ‘n groter oes as die pas-afgelope jaar. Alle besproeiing en self toediening van kunsmis en addisionele voeding, geskied deur middel van drupbesproeiing. Vanaf Maart en Aprilmaand is dit tyd vir bestuiwing van boorde en daar word gemiddeld 10 tot 12 byekorwe per hektaar uitgesit. By Alicedale is daar by tye tot 300 korwe in die boorde. Byekorwe bly vir feitlik vyf volle maande in die boorde en word teen die begin September verwyder. Teen hierdie tyd is die oestyd alweer in volle swang en begin die eerste spanne om bloubessies te pluk. Spanne bestaan uit ‘n voorman, 32 plukkers en drie “QCs” – gehaltekontroleurs. Wanneer daar in Junie begin word om die eerste bloubessies van die nuwe seisoen te oes, word daar gewoonlik met slegs een span begin wat stelselmatige toeneem soos die seisoen sy piekperiode nader. In piekseisoen is tot 12 spanne in die boorde besig en plukkers moet hul staan in die boorde ken – plukwerk bly maar rugbreekwerk! 
Bemarking
As deel van die Berryworld groep word Alicedale se totale opbrengs aan Berryword gelewer en word in omvattende uitvoer- en bemarkingsprogramme na feitlik alle uithoeke van die wêreld gestuur. Onder die grootste invoerders is Europa, die Verenigde Koninkryk, Midde Ooste en Verre Ooste, - kleiner hoeveelhede bessies was tot onlangs ook vir Rusland bestem.  
Bloubessies is internasionaal gewild as ‘n varsproduk-lekkerny en word graag vars geëet. Bessies wat dalk nie aan streng varsproduktevereistes voldoen nie, word gebruik vir die maak van allerlei “neweprodukte” soos roomyse, jogurt, vrugtedrankies (smoothies) en tot slaaie. Met die bloubessiesoen in Suid-Afrika tans in volle swang, is botteltjies en flessies met konfyte, jellies en selfs blatjang en souse algemeen orals beskikbaar – veral onder tuismarkte en –nywerhede.