Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sidebar

08
Sun, Sep

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRI-PULSE - Die Overberg is besig om haar mooiste klere aan te trek vir NAMPO Kaap wat vanjaar van 11-14 September deur Graan SA en Bredasdorp Park NPC op Bredasdorp Park, aangebied word.

Dit is die vyfde aanbieding van NAMPO Kaap en ook die 30-jarige herdenking van die eerste Meganisasie Dag wat in 1994 plaasgevind het. NAMPO Kaap het sedert sy ontstaan die voortou geneem om vir die laaste  vyf jaar landbou op sy beste in die Kaap ten toon te stel, en vir produsente en die gemeenskap ‘n platform te bied wat innovasie, tegnologie en netwerk- geleenthede soos min, te bied.
Dié jaar se tema, Landbou: Die Ruggraat van Ekonomiese Groei, is van groter belang as ooit tevore, terwyl ons deur die struikelblokke van 2024 navigeer. Landbou bly die hoeksteen van globale ekonomieë, wat volhoubare ontwikkeling dryf, voedselsekerheid verseker en innovasie in ‘n toenemend gekoppelde wêreld bevorder. Die landbousektor is ‘n kritieke enjin van ekonomiese groei. Dit voed nie net miljoene nie, maar verskaf ook lewensbestaan ​​​​vir ‘n beduidende deel van die bevolking. Met vooruitgang in landboutegnologie, van presisieboerdery tot volhoubare praktyke, beleef die sektor ’n transformerende fase wat bydra tot ekonomiese stabiliteit en veerkragtigheid.
“Die belangrikheid van landbou strek verder as blote produksie. NAMPO Kaap speel ‘n belangrike rol in landelike ontwikkeling en die bevordering van sosiale groei. Deur produsente met moderne toerusting en kennis te bemagtig, kan ons produktiwiteit en inkomste ’n hupstoot gee, wat lei tot meer lewendige en robuuste landbousektor. Boonop maak landbou se integrasie met ander sektore, soos hernubare energie en biotegnologie, nuwe weë oop vir ekonomiese diversifikasie en innovasie,” het dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof van NAMPO, Bemarking en Navorsingskoördinering gesê.
NAMPO Kaap se sukses is sigbaar in sy volgehoue groei en volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park direksies, is daar 38 addisionele 15x20m uitstalruimtes op die terrein, langs die proefpersele ingerig, om in die vraag na addisionele uitstalruimte te voorsien. Nuwe masjinerie en tegnologie word jaarliks by NAMPO Kaap bekend gestel, en danksy die vergrote uitstalarea, kan nuwe uitstallers met gemak gehuisves word. Verder kan battery-aangedrewe motorfietse, quads, en voertuie op ‘n toegewyde demonstrasiebaan besigtig word.
Skaaphond Ekspo
Besoekers aan NAMPO Kaap kan vanjaar uitsien na ‘n Skaaphond Ekspo wat van Woensdag tot Vrydag September in die BKB-veesentrum aangebied word. Hierdie program, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Skaaphond Vereniging, behels lesings, demonstrasies en kompetisies. Die finaal van die jaarlikse Nasionale Toyota Jong Afslaers kompetisie word op Vrydag, 13 September gehou, en tydens dié geleentheid sal die Skaaphond-veiling plaasvind.
Lipizzaners
Die wêreldberoemde  Suid-Afrikaanse Lipizzaners sal weer daaglikse vertonings lewer. Hierdie wit hingste sal besoekers betower met hul asemrowende bewegings op die maat van bekende musiek.
‘n Fees van Fynbos
Besoekers aan NAMPO Kaap is word elke jaar verras met ‘n fees van Fynbos. Marjolijn Malan se indrukwekkende blommerangskikkings in die Voermol-saal sal beslis nie teleur stel nie. Die Neptun Fynbos uitstalling in die Neptun Saal beloof om vanjaar, onder leiding van Jan Hagen, weer die asems weg te slaan met ‘n uitstalling wat die verskeidenheid plante wat inheems is aan die streek, so na as moontlik in hulle natuurlike habitat uit te beeld. Verskillende biome sal uitgebeeld soos onder andere proteas, speldekussings, verskeie ander fynbosspesies en aalwynsoorte wat in die omgewing voorkom. ʼn Teetuin maak deel uit van die uitstalling om as oase te dien wanneer besoekers aan NAMPO Kaap asem wil skep en iets wil nuttig in ʼn natuurtuin-atmosfeer.
Die Jeug is die toekoms van landbou
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou-skoleprogram beoog om vanjaar 500 leerders van 30 skole wat landbou as vak aanbied, by die ekspo te betrek. Hier kan die leerders dit wat hulle in die klaskamer leer, aanvul met praktiese ervarings wat die kurrikulum ondersteun.
Die jaarlikse Overberg Streeksjeugskou vind plaas op  Saterdag, 14 September. Leerders kan inskryf vir die volgende klasse: suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee, perd, konyn, duif, kulinêre kuns, suiwelbereiding en fotografie. Seuns en meisies tot 17 jaar neem deel in drie ouderdomsgroepe: junior-junior (5 tot 9 jaar), junior (10 tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).
Vroueprogram
Vanjaar se vroueprogram beloof om weer stampvol te wees met bekende gaste, en is beslis iets om na uit te sien! Die gewilde NAMPO Kaap instap-skoonheidsalon sal ook weer die skoner geslag van kroontjie tot toontjie bederf.
Sien jou daar!
Toegangskaartjies is vanaf 1 Julie 2024 aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope, teen R80 vir volwassenes en R50 vir skoolgaande kinders. Kaartjies by die hekke sal te koop wees teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse-kinders kom gratis in. NAMPO Kaap duur van Woensdag, 11 tot Vrydag, 13 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 14 September van 08:00 – 14:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas Toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584 / 082 896 2225 of www.overberg-info.co.za