AGRI-PULSE – NOORDWES - Die sesambos is ’n plant met ’n geswolle veel-vertakte stam en dit word gewoonlik op grond van sy morfologiese kenmerke, saam met ander soortgelyke maar dikwels onverwante plante, as sukkulentagtig geklassifiseer.
Hierdie plante lyk anders as die meeste ander bome. Van die plante is hoog gespesialiseerd en is aangepas om in baie droë en warm omstandighede te oorleef. Die genus Sesamothamnus behoort aan die Pedaliaceae, die sesamfamilie en daar is tans vier spesies wat as bome in suidelike Afrika geklassifiseer is.
Die sesambos is yl vertak met gekromde verspreide doringagtige strukture wat net onder die blare voorkom en dit is ’n uitstaande kenmerk wat dit maklik maak om die plante te identifiseer.
Die bekende sesamsaad en -olie word van Sesamum indicum, inheems aan Asië, verkry. Sesam word wydverspreid gekweek en is baie gewild weens sy hoogs aromatiese geur en sagte smaak. Sesamsaad, - olie en -pasta is ryk aan vet, proteïene, minerale, vitamiene en dieetvesel word dikwels gebruik in die voorbereiding van ‘n verskeidenheid van kosse. Die Chinese gebruik sesamsade vir al meer as 5 000 jaar om kos geregte op te kikker.
Sesamothamnus lugardii is ‘n droë savanna vetplantagtige struik of medium groot boom wat in Zimbabwe, die suidelike gedeeltes van Botswana en in noordelike dele van die Limpopo-vallei in Suid-Afrika voorkom. Nêrens is dit volop nie en dit word dikwels in kalkagtige, goed gedreineerde grond of tussen rotse aangetref, waar dit neig om die dominante houtagtige plantspesie te vorm. Die doringagtige plante is robuuste en langlewend, met dik geswolle stamme met ’n koperkleurige bas wat afskilfer.
Die groot, indrukwekkende, welriekende wit tot roomkleurige trompetvormige tweeslagtige blomme met slanke blombuise, maak saans na sononder oop, verwelk en val die volgende oggend af. Die blomme word hoofsaaklik deur die langtong valk-nagvlinder (Agrius convolvuli) bestuif. Die vrug is ’n hartvormige plat, hout-agtige kapsule wat by rypwording oopspring om papieragtige vlerkvormige sade vry te stel.
Dit is ‘n ongewone plant wat plantkundiges, boom- en natuurliefhebbers ewe veel boei as gevolg van sy groeivorm en die rol wat dit speel in ekostelsels. Die plante is aangepas om water in hul stamme en takke te berg, wat aan hierdie plante nogal ongewone, maar aantreklike vorms gee. Hierdie plante bied ‘n noodsaaklike habitat vir ’n verskeidenheid van wild lewe, insluitend klein soogdiere, voëls, reptiele en insekte.
Die plante word swaar bewei en alhoewel die bas dikwels gestroop word herstel dit vinnig wat die plant veerkragtig maak teen herbivore. Die plant se robuuste wortelstelsel help om die grond te stabiliseer. Boonop dien die dooie plantmateriaal as ‘n bron van organiese voeding ryke kompos, wat help om die grond kwaliteit in die omgewing van die plante verhoog.
Aftreksels van die blare en stingels word vir medisinale doeleindes gebruik, insluitend behandelings vir kwale soos asemhalingsprobleme. Die plante kan van saad gekweek word en groei baie maklik van stam steggies.