Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sidebar

10
Sun, Aug

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRI-PULSE – NAMAKWALAND - Asof deur towerkrag ontvou ‘n tapisserie van briljante kleure nou weer langs die kronkelende paaie van die Namakwa Nasionale Park en omliggende gebiede.
Skoenlappers, voëls en naaldekokers dartel rond tussen die blomme, skynbaar oorweldig deur die oorvloed en diversiteit. 

Elke draai in die pad skilder ‘n onvergeetlike prentjie: valleie gevul met Namakwalandse madeliefies en ander lenteblomme wat pols met pure energie en vreugde.
Vanaf einde Julie tot vroeg in Septemer, word die stowwerige valleie van Namakwaland omskep in ‘n wonderland, bedek met veldblomme. Met sy winterreënval is Namakwaland die tuiste van die rykste bolflora van enige droë streek ter wêreld en meer as 1 000 van sy geraamde 3 500 plantspesies word nêrens anders op aarde gevind nie.
Blommekykers kry nou die kans om te gaan kyk na die land van kontraste, waar die strawwe klimaat ‘n magdom lewensvorme geskep het wat uitstekend aangepas is vir hul spesifieke habitat. 
Blomvelde, sterbelaaide nagte, kokerbome, enorme granietrotse en die ysige Atlantiese Oseaan, is maar ‘n paar wonders wat op die besoeker wag aan die kaleidoskoop van kleur - Namakwaland.
Die velde rondom Skilpad by die Namakwa Nationale Park, ontwaak saggies uit hul winterslaap, met die eerste tekens van die lente wat begin verskyn.
 Alhoewel die landskap op plekke steeds ongelyk is, dui dit reeds op die skouspelagtige blomseisoen wat voorlê.
In die Wildeperdehoekpas-gebied is die 4x4-ekoroete tans ‘n asemrowende ervaring. Velde oranje, wit en geel veldblomme omsoom die roete en bied ‘n visuele fees vir natuurliefhebbers en avontuursoekers. Dit is ‘n moet-sien vir enigiemand wat die streek verken.
Staproetes by beide Skilpad en Koeroebees kom ook tot hul reg en bied panoramiese uitsigte en ‘n vreedsame ontsnapping na die natuur – perfek vir ‘n dag buite.
Selfs die kusgebiede begin blom, ‘n belowende teken vir die res van die seisoen.
 Besoekers kan ‘n lewendige vertoning van kleure en blomdiversiteit in die komende weke verwag. Daar word verwag dat dagtemperature bo 20°C sal bly, vergesel van ‘n vars, oostelike briesie. Ligte buie word later in die week voorspel, wat die blomtoestande verder kan verbeter.
Besoekers kan tans na die volgende blomsoorte kyk: 
Bittergousblom, bergmagriet, Kaapse gousblom (soetgousblom), Namakwalandse madeliefie, sambreeltjies, bokbaaivygies, glansogies, blou en wit sporries, wit-soe, verskeie Oxalidaceae (suurrings) en ‘n verskeidenheid vygie spesies, meidestert ander Gazania-spesies.